IPL kom dalk gou vir vroue

Foto ter illustrasie. Argieffoto.

’n Indiese Premierliga vir vroue sien aanstaande jaar die lig ná ongekende groei in die belangstelling van die skoner geslag in dié sportsoort.

Die beheerliggaam van Indiese krieket, die BCCI, het Vrydag aangekondig dat die nuwe WIPL-vrouereeks aanstaande jaar in Maart net voor die manstoernooi in die land beslis sal word.

Die langverwagte reeks sal uit vyf spanne bestaan, wat oor ’n dubbelronde kragte sal meet. Die topspan sal regstreeks tot die eindstryd deurdring, met die spanne wat tweede en derde eindig wat sake om die oorblywende plek in die eindronde sal uitspook.

Die vyf deelnemende spanne sal elk ’n maksimum van vyf oorsese spelers in hul elftalle vir wedstryde mag hê.

“Om te verseker dat daar genoegsame mededinging tussen die spanne is, maar ook ’n aanvaarbare balans tussen plaaslike en internasionale spelers, is besluit om ’n beperking van vyf oorsese spelers op ’n deelnemende span se wedstryd-elftal te plaas.

“Elke span kan ’n groep van agttien spelers hê met die getal internasionale spelers wat tot ses beperk sal word,” het die BCCI in ’n verklaring gesê.

Die Australiese Big Bash-vrouereeks laat net drie internasionale spelers in ’n spangroep van 15 toe.

Die WIPL-wedstryde sal op ’n tuis- en weg-grondslag beslis word.

’n Lang lys van stede word tans as moontlike basisse oorweeg.
Dharamsala, Jammu, Pune, Rajkot, Indore, Nagpur, Raipur, Ranchi, Cuttack, Kochi, Vizag en Guwahati is almal tans in die wedloop.

Groter stede wat tans IPL-wedstryde aanbied, kan ook moontlik oorweeg word en dit is nie uitgesluit dat stede soos Ahmadabad, Bengaluru, Chennai, Delhi, Kolkata en Mumbai betrek kan word nie.

’n Voorstel of die eienaars van IPL-spanne eerste reg sal hê om WIPL-spanne te koop, sal nog deur die BCCI bespreek word.

Belangstelling en deelname aan vrouekrieket in Indië het meer as verdubbel oor die laaste agt jaar.

“Daar was ’n gemiddelde groei van 111% onder alle ouderdomsvlakke, terwyl die groei onder senior vroue 129% beloop het. Dit is merkwaardig en regverdig ’n IPL-reeks vir vroue,” het die BCCI in sy verklaring gesê.

Bykomende inligting: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.