Jansen ’n blink krieketdiamant

Marco Jansen blink met kolf en bal uit. Foto: Twitter.

Hy mag dalk net 21 jaar oud wees, maar Marco Jansen se vertonings laat reeds Suid-Afrikaanse krieketliefhebbers regop sit.

Die jong snelbouler het in die tweede nie-amptelike toets tussen Suid-Afrika A en Indië A in Bloemfontein met ’n goeie veelsydige vertoning vorendag gekom.

Sy onoorwonne 70 lopies het gesorg dat die Suid-Afrikaners 297 in hul eerste beurt kon aanteken nadat hulle ’n stadium op 92/4 gewankel het.

Hy het agt viere en ’n ses in sy beurt geslaan – glad nie ’n slegte poging vir iemand wat op no. 8 kolf nie.

Daarna het hy die belangrike paaltjies van Baba Aparajith (0) en Ishan Kishan (49) geneem om saam met Glenton Stuurman (2/46) te sorg dat die besoekers tot 198/5 ná die dag se spel beperk is.

Jansen het in 17 eersterangse wedstryde al 64 paaltjies teen ’n gemiddeld van 21,98 geneem, terwyl hy ook net meer as 500 lopies met ’n hoogste telling van 70 geslaan het.

Dit is egter nie net in rooibalkrieket waarin hy uitblink nie.

Hy het vroeër vanjaar ’n wedstryd of twee vir die Mumbai Indians in die Indiese Premierliga gespeel en hy het teen die Royal Challengers Bangalore so byna ’n haas uit die hoed vir sy span gepluk.

RCB moes net ses lopies van die laaste boulbeurt slaan om die wedstryd te beklink en boonop was ’n veglustige AB de Villiers (46* van 25 balle) nog voor die paaltjies.

Tog het Rohit Sharma (Mumbai-kaptein) die bal na die jong Suid-Afrikaner gegooi. En Jansen het nie teleurgestel nie.

Hy het met sy akkurate boulwerk beïndruk, De Villiers het sy paaltjie verloor en RCB kon eers die wenlopie van die laaste aflewering kry.

“Ek is glad nie verbaas dat Marco op die groot verhoog met goeie vertonings vorendag kom nie. Hoewel hy nog ’n jong speler is, is ek baie trots op sy volwassenheid,” het Vincent Barnes, voormalige Protea-boulafrigter, ná daardie vertoning gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.