Kallis: Op koers na sukses in eerste toets saam met Engeland

Jacques Kallis. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Jacques Kallis is op pad om sukses in sy eerste toets as Engeland se tydelike kolfwerk-konsultant te smaak. Joe Root se span benodig slegs 36 verdere lopies om die wedstryd teen Sri Lanka in Galle te wen.

Die Suid-Afrikaanse veelsydige ster is deur Engeland vir hul toetsreeks teen die eilandmanne nadergetrek nadat hy in ’n soortgelyke hoedanigheid deel van die Protea-opset was toe die Engelsmanne laat in 2019 na Suid-Afrika getoer het.

Sy diens is egter sedertdien nie weer deur die Proteas benodig nie en in die huidige administratiewe warboel waarin Krieket Suid-Afrika (KSA) hom bevind, is die tydelike Engeland-pos waarskynlik ’n slim skuif.

Kallis het voor die aanvang van die Galle-toets gesê dit is hartseer dat hy nie sy ervaring kan gebruik om Suid-Afrikaanse kolwers van hulp te wees nie, maar dat hy sy tyd saam met Engeland baie geniet.

Volgens mediaberigte het KSA se beplande regstellendeaksiebeleid, wat inhou dat slegs swart konsultante aangestel moet word, ook ’n invloed op Kallis se korttermynbesluit gehad.

Engeland-spelers – onder wie Jonny Bairstow en die groentjie Dan Lawrence – het al vantevore hul opgewondenheid uitgespreek om saam met Kallis te werk. Dit het veral in die Engelsmanne se eerste beurt gelyk of dié vennootskap goed werk.

Joe Root vier sy 200-tal. Foto: Twitter.

Root was op sy beste en hy het 228 lopies gemoker. Sy beurt het 18 viere en ’n ses ingesluit.

Dan het die 23-jarige Lawrence 73 in sy eerste toetsbeurt aangeteken – glad nie ’n slegte prestasie op die draaierskolfblaaie van Asië nie.

Engeland het weliswaar in sy tweede beurt op 14/3 gesteier, maar Bairstow (11) en Lawrence (7) is besig om die kastaiings uit die vuur te krap – die besoekers benodig slegs 36 lopies om die eerste toets te wen.

Mark Boucher, die Proteas se hoofafrigter en een van Kallis se boesemvriende, het ook die hoop uitgespreek dat die Suid-Afrikaanse legende in die toekoms weer deel van die Protea-opset sal word.

  • Opsomming van telkaart:

Sri Lanka 135/10: Dinesh Chandimal (28), Dom Bess (5/30) en Stuart Broad (3/20)

Engeland 421/10: Joe Root (228), Dan Lawrence (73) en Dilruwan Perera (4/109)

Sri Lanka 359/10: Lahiru Thirimanne (111), Angelo Mathews (71) en Jack Leach (5/122)

Engeland 38/3: Jonny Bairstow (11) en Lasith Embuldeniya (2/13)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.