Kiwi-honderdtalle kniehalter Proteas

Rachin Ravindra en Kane Williamson geniet ’n onoorwonne vennootskap van 219 lopies teen Suid-Afrika. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Die eerste uur of twee van die eerste toets tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland in Mount Maunganui het nie te sleg vir die Proteas verloop nie.

Kaptein Neil Brand het die loot gewen, besluit om eerste veldwerk te doen en Tshepo Moreki het met die eerste aflewering van sy internasionale rooibalkrieketloopbaan vir Devon Conway been voor paaltjie betrap.

ʼn Kort rukkie later het Clyde Fortuin vir Tom Latham agter die paaltjies van Dane Paterson se boulwerk uitgevang en die tuisspan se telling was 39/2 teen ʼn onervare Suid-Afrikaanse toetsspan.

Maar daarna was dit so te sê eenrigtingverkeer soos wat Rachin Ravindra en Kane Williamson die lopiekrane vir die Swartpette oopgedraai het.

Die twee Kiwi-kolwers geniet ʼn onoorwonne vennootskap van 219 lopies om die derde paaltjie en al twee spelers het hul honderdtalle gevier.

Williamson, wat in sy 96ste toets speel, het sy 30ste honderdtal gemoker, terwyl Ravindra die eerste honderdtal van sy toetsloopbaan aangeteken het.

Suid-Afrika het hulself ook in die voet geskiet met ʼn paar verbroude vangskote – grotendeels van Ruan de Swardt se boulwerk – en teen uitskeityd het die Nieu-Seelanders 258/2 op die telbord gehad.

Die SA20-toernooi geniet tans voorkeur in Krieket Suid-Afrika se oë en ʼn afgewaterde groep is vir die toetsreeks teen die Kiwi’s gekies.

Brand het egter in aanloop tot die kragmeting gesê dat sy span oor die vermoë beskik om vriend en vyand te verras.

“Dit is ʼn reusegeleentheid vir elke liewe speler om sy kleim in die toetsgroep af te steek.  Maar dit gaan ʼn taai reeks wees en ons sal baie goed moet speel om mededingende krieket op te dis.”

  • Opsomming van die telkaart:

Nieu-Seeland 258/2 in 86 boulbeurte: Rachin Ravindra 118*, Kane Williamson 112* en Dane Paterson 1/54.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Neil Brand (kaptein), Edward Moore, Raynard van Tonder, Zubayr Hamza, David Bedingham, Keegan Petersen, Ruan de Swardt, Clyde Fortuin, Duanne Olivier, Tshepo Moreki en Dane Paterson.

Nieu-Seeland: Tom Latham, Devon Conway, Kane Williamson, Rachin Ravindra, Daryl Mitchell, Tom Blundell, Glenn Phillips, Mitchell Santner, Kyle Jamieson, Matt Henry en Tim Southee (kaptein).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.