Klaasen se klappende kolf kelder Aussies

Heinrich Klaasen het 26 grenshoue in sy beurt gemoker. (Foto: Riaan de Bruyn/RDBPhotography)

Daar was Vrydagmiddag ʼn donderstorm in Centurion. Maar vergeet vir eers van weerligstrale; in dié storm het Heinrich Klaasen se klappende kolf gesorg dat dit sesse op SuperSportpark reën.

Die 32-jarige kolwer het die Aussie-boulers verwoes om 174 lopies van slegs 83 aflewerings te moker. Sy beurt het 26 grenshoue ingesluit en hy het moeiteloos die bal lug langs tussen die opgewonde toeskouers ingestuur.

Hy het ʼn vennootskap van 222 lopies van slegs 94 aflewerings saam met David Miller om die vyfde paaltjie geniet, en die twee se warrelwind-wilgerlatvertoning het toegesien dat die Proteas 416/5 in hul toegelate 50 boulbeurte kon aanteken.

Nodeloos te sê was die wenteiken buite die Australiërs se bereik en die tuisspan het die wedstryd met 164 lopies gewen om sake gelykop in die reeks te maak.

Sondag se vyfde en laaste eendagwedstryd op die Wanderers kan dus met ʼn eindstryd vergelyk word; ʼn perfekte littelosmaker vir die komende Wêreldbeker-kriekettoernooi in Indië.

Heinrich Klaasen en David Miller het n vennootskap van 222 lopies geniet. (Foto: Riaan de Bruyn/RDB Photography)

Maar terug na Klaasen.

Hy het spiere op die voorvoet gebult en hy was sterk op die agtervoet: Die arme Aussie-boulers het naderhand nie meer geweet waar om vir hom te boul nie.

“Ek probeer nog om alles behoorlik in te neem. Dit is ʼn baie spesiale dag, maar ek kan eerlikwaar nie veel van die beurt onthou nie; ek sal die hoogtepunte moet kyk,” het die oudleerder van Die Hoërskool Menlopark gesê toe hy sy speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs neem.

Volgens Mitchell Marsh was daar nie veel wat hy kon doen om die Klaasen-wegholtrein te keer nie. Soms kan jy net terugstaan en die vuurwerkvertoning geniet.

“Ek haal my hoed vir hom en sy beurt af. Ons sou seker bly gewees het om Suid-Afrika tot 350 lopies te beperk, maar ons kon net nie ʼn deurbraak kry nie,” het Australië se kaptein gesê.

Die Suid-Afrikaners het veral die boulwerk van Adam Zampa geniet en hulle het 113 lopies van sy tien boulbeurte geslaan; net so veel soos wat Mick Lewis destyds in die 438-wedstryd op die Wanderers afgestaan het.

Suid-Afrika het 173 lopies in die laaste tien boulbeurte van hul kolfbeurt aangeteken – die meeste nóg in ʼn internasionale eendagkrieketwedstryd.

“Ons aanvanklike doelwit was om 320 lopies aan te teken en toe 380 lopies. Maar toe ek in Dave saamgekolf het, het ons geweet dat 400 lopies binne ons bereik is,” het Klaasen gesê.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 416/5 in 50 boulbeurte: Heinrich Klaasen 174, David Miller 82 en Josh Hazlewood 2/79.

Australië 252/10 in 34,5 boulbeurte: Alex Carey 99, Lungi Ngidi 4/51 en Kagiso Rabada 3/41.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.