Video: Loer agter die skerms by ‘In die sop’

Bertus Basson. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die immergewilde werklikheidsreeks In die sop het hierdie week by Kruiskoffie, ʼn koffiewinkel in die hartjie van Bellville, gaan kuier.

Met die hulp van die bekroonde sjef Bertus Basson en sy regterhand Misi Overturf, kon dié gemeenskapskoffiewinkel ʼn blinknuwe blaadjie omslaan.

“In hierdie seisoen het ons die Wes-Kaap klaar platgereis. Ons het ongelooflike mense ontmoet en lekker mense gesien,” het Bertus aan Maroela Media tydens ʼn stelbesoek van die verfilming van dié week se episode gesê.

“Wat vir my die mooiste sover is, is natuurlik die wonderlike kosstories. En stories van Suid-Afrikaners wat regtig deur moeilike tye is, maar hulself weer begin optrek en weer begin goed doen.”

Dit is die derde seisoen van In die sop, ʼn program wat geskep is om restaurante wat in die moeilikheid is, oftewel in die sop is, weer op die been te kry. Die program se eerste seisoen was in 2021 op die kassie.

Bertus, Misi en hulle span het die afgelope paar jaar reg oor die Wes-Kaap gereis om restaurante ʼn helpende hand te bied en maak in hierdie seisoen ook uiteindelik vir die eerste keer ʼn Gautengse draai.

Kruiskoffie was vir die span veral ʼn hoogtepunt.

“Ek het glad nie verwag om al by seisoen drie te wees nie, maar hier staan ons nou by hierdie episode, waar Andra se hele lewe oor diensbaarheid gaan,” vertel Misi aan Maroela Media.

“Dis maar wat ons ook doen, net op ʼn baie meer avontuurlustige manier.”

  • In die sop word elke Woensdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal, uitgesaai. 

Kyk hier na Maroela Media se kuier agter die skerms:

Kyk na die foto’s van dié episode hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.