Klompe, kolwe en SA’ners

Colin Ackermann het met ’n boulontleding van 7/18 gespog. Foto: Leicestershire Facebook-blad.

’n Paar Suid-Afrikaans-gebore spelers sal vir Nederland ’n hupstoot in die komende T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate en Oman gee.

Colin Ackermann, die 30-jarige krieketspeler van George, is die Nederlanders se onderkaptein en hulle sal veral op sy veelsydigheid steun. Benewens sy vaardigheid met die wilgerlat (3 051 eersterangse lopies teen ’n gemiddeld van 27,73 en ’n treftempo van 121) spog hy ook met die beste boulsyfers in T20-geskiedenis.

Hy het in 2019 die Birmingham Bears dronk gedraai in die Vitality T20-reeks om met boulsyfers van 7/18 te spog.

“Ek sou nooit vir een oomblik kon dink dat ek ’n boulwerk-rekord agter my naam sou hê nie!” het Ackermann ná die wedstryd gesê.

Dan sal Roelof van der Merwe ook vir ekstra vuur op die veld sorg.

Roelof van der Merwe. Foto: GB Jordaan.

Die oudleerling van die Hoërskool Waterkloof is destyds as die speler van die wedstryd in sy T20-buiging vir die Proteas aangewys nadat hy met die kolf en die bal teen Australië uitgeblink het.

Die linkshandige draaier het toe 1/30 met die bal geneem en 48 vinnige lopies geslaan. Meer onlangs was hy een van die London Spirit se meer bestendige spelers in die Hundred-reeks.

Hy speel sedert 2015 internasionale krieket vir Nederland.

Stephan Myburgh sal waarskynlik die kolfwerk vir die spelers in oranje open. Die 37-jarige kolwer was destyds een van die belowendste skoolspelers in Suid-Afrika.

In ’n onlangse eendagreeks teen Ierland het sy beurt van 74 ’n deurslaggewende rol in Nederland se reeksoorwinning gespeel. Hy het ook al sy stempel teen die Proteas afgedruk toe hy 51 lopies van 28 aflewerings in die 2014 Wêreldbeker-toernooi in Indië gemoker het.

Stephan Myburgh vier een van sy spog-vyftigtalle gedurende die T20-Wêreldbeker van 2014. Foto: Verskaf.

Ryan ten Doeschate sal vir die nodige kalmte in drukkoker-situasies sorg. Die 41-jarige Kapenaar is ’n veteraan van amper 400 T20-wedstryde, terwyl Cricinfo hom as een van die beste spelers nóg uit ’n nie-toetsspelende land bestempel.

Sy ervaring sal veral vir jong spelers, waaronder Brandon Glover, van groot waarde wees.

Glover het vir Suid-Afrika se o. 19-krieketspan gespeel, maar sy Nederlandse paspoort het gesorg dat hy in 2019 sy buiging vir die Europeërs gemaak het.

Nederland: Pieter Seelaar (kaptein), Colin Ackermann, Philippe Boissevain, Bas de Leede, Paul van Meekeren, Ben Cooper, Max O’Dowd, Scott Edwards, Ryan ten Doeschate, Timm van der Gugten, Roelof van der Merwe, Brandon Glover, Fred Klaassen, Logan van Beek en Stephan Myburgh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.