Kolpak-Simon is een van Wisden se bestes

Simon Harmer. Foto: Twitter.

’n Voormalige Protea-draaier en ’n gewese Klerksdorper tel onder die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack se beste krieketspelers van die jaar.

Simon Harmer en Marnus Labuschagne is saam met Jofra Archer (Engeland), Pat Cummins (Australië) en Ellyse Perry (Australiese vrouekrieketspan) vir dié eer benoem.

Harmer het in 2016 al sy Protea-drome kortgeknip toe hy ’n Kolpak-kontrak met die Engelse graafskap Essex onderteken het.

Die 31-jarige Harmer maak geen geheim van die feit dat hy eendag vir Engeland op die internasionale verhoog sal wil verteenwoordig nie. En sy spelpeil in verlede jaar se Graafskap-kampioenskap het die droom beslis ’n hupstoot gegee.

Die draaier se 83 paaltjies het gesorg dat Essex hul tweede titel in drie jaar ingepalm het.

Harmer – wat homself tans as die beste draaier in wêreldkrieket bestempel het – het 20 paaltjies vir die Proteas in vyf toetse geneem.

In eersterangse krieket het hy reeds 608 paaltjies teen ’n goeie gemiddeld van 27,80 laat kantel.

Marnus Labuschagne op die voorvoet teen die Proteas.. (Foto: Twitter)

Op sy beurt het Labuschagne die krieketwêreld aan sy voete nadat hy verlede jaar vir Steve Smith as ’n harsingskudding-plaasvervanger in ’n toets teen Engeland vervang het.

Die 25-jarige het 15 jaar gelede saam met sy ouers na Australië verhuis.

Hy het die meeste toetslopies in die 2019-krieketkalenderjaar aangeteken, terwyl hy ook ’n spoghonderdtal vir die Aussies in die afgelope eendagreeks teen die Proteas in Potchefstroom geslaan het.

Na 14 toetse het hy ’n uitstekende kolfgemiddeld van 63,43, terwyl hy ook ’n gemiddeld van meer as 50 lopies per beurt in eendagkrieket handhaaf.

Ben Stokes, die Engelsman wat in Nieu-Seeland gebore is, is as die voorste krieketspeler van 2019 aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.