Kolwe doen die praatwerk in SA20

Heinrich Klaasen sorg weer vir vuurwerkvertonings. (Foto: X/SA20)

Dit reën omtrent vir jou grenshoue in die eerste paar wedstryde van die SA20-toernooi. Dit is amper vreemd om te dink dat die Protea-toetsspan skaars ʼn week of twee gelede vir ʼn skamele 55 lopies uitgeknikker is.

Dit was weliswaar op ʼn moeilike Nuweland-baanblad.

Maar Ryan Rickelton en Heinrich Klaasen – tans die twee voorste lopiemakers in die jongste weergawe van die SA20-toernooi – het reeds 25 sesse tussen hulle gemoker.

Rickelton slaan sy lopies teen ʼn treftempo van 185, terwyl Klaasen oudergewoonte die langsteel inlê: Hy kolf teen ʼn blitsige treftempo van 197,56.

Dan het MI Cape Town se Rassie van der Dussen die eerste honderdtal van die 2024-toernooi aangeteken toe hy ʼn blitsige 104 lopies van slegs 50 balle geslaan het.

Rassie van der Dussen het die eerste honderdtal van die 2024-weergawe van die SA20-toernooi gemoker. (Foto: X/MI Cape Town)

Die 34-jarige kolwer het juis in ʼn onlangse onderhoud gesê dat hy duimvashou dat sy goeie vertonings in die SA20 sy vliegtuigkaartjie na die VSA vir die T20-Wêreldbeker sal bespreek.

Suid-Afrika speel op 3 Junie teen Sri Lanka in sy openingswedstryd van die internasionale skouspel in New York.

In die eerste sewe SA20-wedstryde het die spanne reeds vyf keer 200 of meer lopies gemoker met die Kapenaars se spogbeurt van 243/5 teen die Joburg Super Kings die hoogste telling nóg.

Tog knyp die kolwers nie net hul oë toe en swaai nie. Klaasen moes Maandag sy storie ken om die speler van die wedstryd- toekenning in Durban in ontvangs te neem.

Sy beurt van 64 lopies het ʼn deurslaggewende rol in die Super Giants se uiteindelike triomf teen die Super Kings gespeel; veral wanneer ʼn mens in ag neem dat die Durbaniete op ʼn stadium met hul telling op 34/4 gesteier het.

Voorste vyf kolwers:

  1. Ryan Rickelton (MI Cape Town): 185 lopies teen ʼn gemiddeld van 92,50 en ʼn treftempo van 185.
  2. Heinrich Klaasen (Durban’s Super Giants): 162 lopies teen ʼn gemiddeld van 81 en ʼn treftempo van 197,56.
  3. Rassie van der Dussen (MI Cape Town): 128 lopies teen ʼn gemiddeld van 64 en ʼn treftempo van 182,85.
  4. David Miller (Paarl Royals): 116 lopies teen ʼn gemiddeld van 116 en ʼn treftempo van 154,66.
  5. Rilee Rossouw (Pretoria Capitals): 111 lopies teen ʼn gemiddeld van 55,50 en ʼn treftempo van 176,19.

Hoogste tellings:

243/5: MI Cape Town teen Joburg Super Kings op die Wanderers

225/3: Durban’s Super Giants teen Sunrisers Eastern Cape op St. Georgepark

210/3: Paarl Royals teen Pretoria Capitals op SuperSportpark

207/5: MI Cape Town teen Durban’s Super Giants op Kingsmead

200/7: Pretoria Capitals teen Paarl Royals op SuperSportpark

Rilee Rossouw het 82 vinnige lopies vir die Pretoria Capitals teen die Paarl Royals geslaan. (Foto: X/SA20)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oom Kaspaas ·

Jammerte net een of twee van hulle gaan dalk span kry as hulle meer kies is die span se samestelling nie reg nie en dan haal KSA nie hulle kwota teikens nie

Elmarie ·

Ekbkan ongelukkig nie elke wedstryd kyk maar ek geniet elke een wat ek wel kan kyk. Dis nou sommer ‘n krieketfees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.