Kolwers sal moet dink én doen

Temba Bavuma. FOto: Dibyangshu Sarkar/AFP.

Die eerste aflewering van die komende T20-Wêreldbeker word oor net meer as drie maande in Australië afgestuur, en ná die afgelope reeks teen Indië sit die Protea-keurders met ’n kolfwerk-kopseer.

En g’n pil of poeier sal hiervoor help nie; vinnige, bestendige lopies deur toporde-kolwers is die enigste doepa.

Teen Indië was dit óf David Miller óf Rassie van der Dussen óf Heinrich Klaasen wat ’n wedstryd vir die Suid-Afrikaners gewen het en wanneer een van hulle (of ál drie) sukkel, was die beurtlopietempo omtrent vir jou op ’n sloerstaking.

Temba Bavuma het as openingskolwer gesukkel en veral Bhuvneshwar Kumar het hom laat bontstaan.

Die Protea-kaptein kon slegs 61 lopies teen ’n treftempo van net meer as 100 slaan en hy kon net 13 lopies van Kumar se akkurate swaaiboulwerk aanteken.

Tog maak een swak reeks nie noodwendig van jou ’n swakker speler nie en Bavuma is deesdae een van die Suid-Afrikaners se meer bestendige kolwers.

“Ja, Temba het gesukkel. Tog het hy eintlik net teen Kumar gesukkel; ’n bouler teen wie die meeste kolwers kleigetrap het,” het Mark Boucher gesê.

Volgens die Protea-afrigter is Kumar ’n baie gevaarlike bouler op sekere kolfblaaie juis omdat hy oor die vermoë beskik om die bal in al twee rigtings te swaai.

“As ’n openingskolwer in T20-krieket moet jy vanuit die staanspoor die lopiekrane oopdraai en dit was ’n moeilike uitdaging teen Kumar. Ek het geen probleem met die tempo waarteen Temba teen die ander boulers gekolf het nie.”

As die Proteas egter goed in Australië wil presteer, sal die kolwers op alle suiers moet vuur; selfs al is die boulwerk hoe goed.

Boucher meen dat selfvertroue ’n groot rol in T20-krieket speel. En om ’n sêding uit Ballade vir ’n enkeling ’n bietjie aan te pas; ’n speler sal moet kan dink én doen.

“Jy moet tegnies skerp genoeg wees om ’n sekere hou te kan speel. Wanneer jy genoeg selfvertroue het om daardie hou of aflewering by jou arsenaal te voeg, moet jy dit ook in die wedstrydsituasie kan doen.”

Kortom sal ’n span nie ’n Wêreldbeker wen as die spelers met onsekerheid speel nie, was Boucher se raakvat beskrywing.

Intussen slaan Rilee Rossouw links en regs lopies in Engeland, terwyl Dewald Brevis in die afgelope Indiese Premierliga gewys het hoe gevaarlik hy kan wees.

“Dit is goed vir Suid-Afrikaanse krieket as die name van verskillende spelers op keurdervergaderings genoem word. Hulle is beslis deel van die prentjie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Gee Dewald net nog so jaar of wat van 1ste klas krieket. Maar maak seker hy gaan soek nie sy heil oorsee nie……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.