Krieket: Jong Proteas trap klei teen Indië

(Foto: Cricket South Africa/Facebook)

Suid-Afrika se o.19-krieketspan sal Sondagoggend nog kop skud oor hoe hy Saterdagaand in Providence, Guyana, sy openingswedstryd teen Indië in vanjaar se Wêreldbekertoernooi  vir o.19-spanne verloor het.

Die tafel was gedek vir ʼn oorwinning, maar Indië het die kragmeting met 45 lopies gewen. Dit het gevolg nadat die jong Suid-Afrikaners, net soos Engeland se krieketspan in Australië in die reeks om die As, ingeplof het.

Indië is in sy kolfbeurt tot 232 lopies beperk nadat sy kaptein, Yash Dhull, 82 lopies aangeteken het.

Suid-Afrika, met Dewald Brevis (65) aan die spits, het net 100 lopies in die laaste 15 boulbeurte benodig met sewe paaltjies staande.

Maar ʼn kolfineenstorting waarin die laaste vyf paaltjies vir slegs 20 lopies prysgegee is, het die baba-Proteas geskud en dus kon hulle net by 187 lopies uitkom.

Indië se linkerhandse draaier, Vicky Ostwal, het die remme aangedraai toe hy met 5/28 geëindig het. Raj Bawa, wat 17 lopies in sy eerste boulbeurt afgestaan het, het met 4/47 verdere skade aangerig.

Brevis – oftewel “Baba AB” omdat hy net soos sy held AB de Villiers op Affies in Pretoria op skool was, ook soos AB probeer kolf en met dieselfde nommer agter op sy hemp speel – het sewe viere en twee sesse in sy kolfbeurt gemoker.

Hy en sy kaptein, George Badenhorst (36), en Valentine Kitime (25) het die grondslag vir ʼn oorwinning gelê, maar die ander kolwers kon nie daarop volg nie.

Die nederlaag is ʼn terugslag, maar as Suid-Afrika sy volgende twee wedstryde teen Ierland en Uganda wen, sal hy saam met Indië vir die uitspeelrondes kwalifiseer.

* Suid-Afrika se volgende wedstryd is Dinsdag teen Uganda. Die Ugandese (197 lopies) is reeds deur Ierland (236/7) geklop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.