Krieketkollig skyn op Klaasen en Miller

Die Proteas sal swaar op die kolfvernuf van David Miller en Heinrich Klaasen steun. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

In die verlede het Suid-Afrika ongetwyfeld oor die spelers beskik om met die Wêreldbeker-krieketlouere weg te stap, maar ondanks halfeindstrydsessies in 1992, 1999, 2007 en 2015 kon hulle nog nooit die wa deur die drif trek nie.

Sodoende het die “chokers”-etiket permanente hangplek om hul nekke gekry.

Tog begin elke nuwe toernooi op ʼn skoon bladsy en in Heinrich Klaasen en David Miller spog die Proteas met twee vurige kolwers wat hulle hopelik nie te veel aan die teleurstellings van die verlede steur nie.

“Ek glo eerlikwaar dat ons nie ‘chokers’ is nie. Die etiket kan seker elke speler op ʼn ander manier beïnvloed, maar dit het my nog nooit gepla nie,” het Miller gesê.

Volgens die hotklou-kolwer het die Suid-Afrikaners al telkemale hulself in belangrike wedstryde in die voet geskiet.

David Miller. (Foto: Marco Longari/AFP.)

“Ons het net nie so goed gespeel as wat ons kon nie, maar ek glo dat ons tans ʼn goeie span het. Op die ou einde is krieket ʼn spel waar jy teen alle verwagtinge in die wedstryd kan verloor. Ons sal net te alle tye met ʼn postiewe ingesteldheid moet speel, terwyl ʼn tikkie geluk ook waardeer sal word.”

So gepraat van ʼn positiewe ingesteldheid: Die 34-jarige Miller het saam met Klaasen ʼn barshou teen Australië op SuperSportpark in Centurion gespeel.

Die twee kolwers het toe met hul vennootskap van 222 lopies van selfs 94 balle die wind heeltemal uit die Aussies se seile gehaal en ná 50 boulbeurte het die Proteas met meer as 400 lopies op die telbord gespog.

Klaasen was op sy aanvallende beste en hy het sy 174 lopies teen ʼn treftempo van 209,63 gemoker, terwyl Miller ook die langsteel in sy onoorwonne beurt van 82 lopies ingelê het.

As hulle nou met soortgelyke vertonings in Indië vorendag kan kom, kan die Proteas op ʼn drafstap wedstryde wen.

Danksy die Indiese Premierliga (IPL) sal al twee kolwers vertroud wees met die Wêreldbeker-toestande en Klaasen se kolfvernuf teen draaiboulwerk sal van hom veral ʼn gedugte teenstander op die draaiervriendelike kolfblaaie maak.

Heinrich Klaasen. (Foto: Riaan de Bruyn/RDBPhotography)

Die 32-jarige kolwer het vroeër vanjaar teen die Wes-Indiese Eilande gewys dat hy ook onder druk sy stempel op ʼn wedstryd kan afdruk.

Die Proteas, wat 261 lopies vir ʼn oorwinning in Potchefstroom gejaag het, het met hul telling op 87/4 gewankel, maar Klaasen het met sy klappende kolf die wedstryd binne 30 boulbeurte vir die Suid-Afrikaners beklink.

Hy het sy spiere gebult, 20 grenshoue gemoker en 119 onoorwonne lopies van slegs 61 aflewerings aangeteken.

“Dit was ʼn goeie kolfblad en beslis een van my beter kolfpogings. Ons het probeer om op die toestande te fokus, en nie op die situasie waarin ons ons bevind het nie,” het hy ná die wedstryd gesê.

Nou ja, hopelik tel die toestande ook in die Proteas se guns.

Suid-Afrika speel Saterdag in hul openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen Sri Lanka. Die aksie begin om 10:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Ons beste kolwer, kaptein Bavuma, sal die spulletjie bymekaar moet hou want die SA kolfbeurt is berug daarvoor om baie vinnig en skielik ineen te stort.

Manie ·

As hulle saam met die groot honde wil harloop, sal hulle moet kan beenlig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.