KSA vergader wyl borge onttrek

Thabang Moroe – KSA se uitvoerende hoof. Foto: Twittter.

Môre kan bepalend wees watter koers Suid-Afrikaanse krieket inslaan wanneer Krieket Suid-Afrika (KSA) in Johannesburg vergader.

Die stormwolke om die beleërde krieketbeheerliggaam het vandeesweek in ’n wolkbreuk verander en die herroeping van vyf gesoute joernaliste se wedstrydakkreditasie vir twee Mzansi Superliga-wedstryde blyk die strooi te wees wat dié moeë kameel se rug finaal geknak het.

Gesaghebbende figure soos dr. Ali Bacher het gesê Suid-Afrika is die grap van wêreldkrieket, terwyl Haroon Lorgat voel dat die huidige krisis met die Tsjernobil-ramp in Rusland vergelyk kan word.

Die man waarom die krisis-spilpunt draai, is KSA se uitvoerende hoof, Thabang Moroe.

Sedert Moroe in Julie 2018 aangestel is, het Sunfoil as borg van die eersterangse reeks (vierdagkrieket) onttrek, terwyl Momentum ook nie meer die hoofborg van die Proteas se vrouespan is nie. Standard Bank het pas ook aangekondig dat hy ná 30 April 2020 nie sy borgskap van die Proteas sal hernu nie.

Dan is senior beamptes soos Corrie van Zyl en Clive Eksteen geskors, terwyl raadslede (Iqbal Khan en Shirley Zinn) vandeesweek bedank het.

Dr. Ali Bacher het ook sy frustrasie met die huidige stand van sake in Suid-Afrikaanse krieket uitgespreek.. Picture:Shayne Robinson/SAPA

Veral Khan het in ’n sterkbewoorde brief vir Moroe aangeval en gesê hy “kan nie langer verantwoordelik gehou word vir die wangedrag van die uitvoerende hoof nie”.

Hy het onder meer ook gesê dat kredietkaarte na hartelus uitgepluk en glad nie met verantwoordelikheid gebruik word nie.

KSA het juis in September gesê hy het ’n verlies van R200 miljoen gely en ’n geprojekteerde verlies van R654 miljoen staar hom oor die volgende vier jaar in die gesig. Volgens die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging is die bedrag eintlik nader aan die R1 miljard-kerf.

Nou het die Willowton Group – die dryfkrag agter Sunfoil, die hoofborg van Suid-Afrikaanse krieket – geëis dat Moroe onmiddellik moet bedank.

Hulle het ook Chris Nenzani (KSA-president) se kop geëis en gevra dat Van Zyl en Kie. onmiddellik heraangestel moet word.

Terselfdertyd eis hulle ’n onafhanklike direkteur van krieket, terwyl hulle vra dat KSA se finansiële sake onder die vergrootglas geplaas moet word.

Intussen dreig die krieketspelersvereniging met ’n spelerstaking. Indien dit wel gebeur, kan die uitspeelrondes van die Mzansi Superliga en die komende reeks teen Engeland kwaai ontwrig word.

Die moontlikheid bestaan egter dat KSA môre die krieketpubliek sal probeer paai deur Graeme Smith as die direkteur van krieket aan te stel.

Smith is aanvanklik saam met Van Zyl en Hussein Manack vir dié pos genader, maar die voormalige Proteakaptein het later sy aansoek onttrek omdat hy glo hy sal nie genoeg vryheid geniet om sake reg te ruk nie.

Samesprekings tussen die twee partye is egter onlangs hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Swartwolf ·

So lyk dit as ‘n ee nar in beheer is van wat veronderstel is om ‘n wereld klas entiteit te wees. Waar het ons dit al voorhees gesien……saa, denel, eskom, aec, saw, sap, sars etc.

Suzette Geringer ·

As jy iets vernietig wil hê gee dit vir een van die kaders.

Peter ·

Ek weet nie waaroor kla bacher nie – hy was mos tevrede met die anc? Waarom nou ontevrede?

pieterd ·

@Peter. Wat ‘n sinnelose aanmerking. Alle korrupsie moet goedgekeur word omdat, aldus jou, iemand met ‘n party se beleid saamstem?
Ali Bacher is een van die groot geeste in wêreld krieket en word deur alle ordentlike mense respekteer.

Gemors ·

Hoop hulle stort heeltamal ineen – sodat daar van vooraf begin kan word.

André-Chris ·

KSA het soos ‘n persoonlike spaarvarkie begin lyk, nie lank nie of dit is so gebruik. Maar Dudu het dan by SAL geskep al was sy uit haar diepte uit en het nie kwalifikasie vir die joppie gehad nie, aangestel was sy aangestel. En as ek dan nou ‘n persoon van 35 jaar oud is met matiek net net deurgeskraap en ek word deur medekaders gekies om uitvoerende hoof van ‘n instansie te wees, wie is ek dan om te weier, die kaders het dan besluit ek is gekwalifiseerd genoeg. Wel miskien was ek die gewildste van die kaders wat vir die joppie aansoek gedoen het.

George in Bloem. ·

Verbasend dat dit vir so ‘n slim ou (met alle respek),soos die agbare dr. Bacher,wat ‘n baie goeie speler homself was en ‘n reuse bydrae vir krieket oor die jare gelewer het,so lank geneem het om agter te kom ons is “die grap van die krieketwereld”. Dit maak hom dan eintlik nou die Rip Van Winkel van die krieketbestuur wereld of hoe? Nou dat die Titanic amper onder die water verdwyn,nou skarrel hulle skielik rond.Shame toggie. Wat het hulle dan nou gedink bedoel die wonderlike ANC met ” transformation”? HALLOOOOOO !!!!!….dok? Look around you!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.