Kyk: AB slaan 100-tal in IPL-oefenwedstryd

AB de Villiers. Foto: Manjunath Kiran/AFP.

Hy is nou wel 37 jaar oud, beskryf homself as ’n “ou man” en het in April laas ’n krieketwedstryd gespeel, maar AB de Villiers kan steeds saam met die beste in die T20-wêreld gesels.

Die voormalige Protea-kaptein het in ’n oefenwedstryd tussen die Harshal Patel XI-tal en die Devdutt Paddikal XI-tal 104 lopies van 46 balle gemoker. Sy beurt het sewe viere en tien sesse ingesluit.

Dit was dalk net ’n oefenwedstryd, maar die Royal Challengers Bangalore-mediaspan het ’n video van De Villiers se kolfwerk in die nette beskikbaar gestel en dit lyk inderdaad asof hy nog enige aflewering met die grootste gemak na die grens kan jaag.

Die IPL word binnekort in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) hervat nadat die wêreldwye Covid-19-pandemie die aanvanklike toernooi gekniehalter het.

De Villiers het toe in ses Indiese Premierliga-beurte 207 lopies teen ’n treftempo van 164,28 geslaan en iemand soos Virender Sehwag het sy lof besing.

“AB de Villiers speel dikwels houe wat net hy in wêreldkrieket kan speel. Ek dink nie ’n mens hoef na verdere beskrywende name of selfs gedigte te soek om hom te beskryf nie. Mnr. 360° pas perfek by hom, ” het die oud-openingskolwer van Indië gesê.

Dit kan baie warm in die VAE word en die spelers sal ongetwyfeld ook met hoë humiditeitsvlakke te doene kry.

“Ons gaan beslis baie sweet, wat seker nie ’n slegte ding is as jy ’n bietjie gewig wil verloor nie, maar vir ’n ou man soos ek is dit belangrik om so vars moontlik te bly,” het De Villiers geskerts.

’n Paneel van voormalige Indiese krieketspelers het hom vroeër as die beste kolwer in IPL-geskiedenis aangewys.

Die RCB speel Maandag sy eerste wedstryd teen die Kolkata Knight Riders in Abu Dhabi.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.