Labuschagne laat nie op hom wag nie

Marnus Labuschagne. Foto: William West/AFP.

Marnus Labuschagne is nou deel van ʼn uitgelese groep spelers wat met ʼn dubbelhonderdtal en ʼn honderdtal in dieselfde toets spog.

Die 28-jarige Aussie, wat in Klerksdorp gebore is, het sy 204 lopies in die eerste beurt teen die Wes-Indiese Eilande in Perth met ʼn onoorwonne 104 lopies in die tuisspan se tweede kolfbeurt opgevolg.

Hy is slegs die derde Australiese kolwer – naas Greg Chappell en Doug Walters – om dié prestasie te vermag.

Labuschagne hou beslis daarvan om op die Optus-stadion te kolf. In sy vorige wedstryd op die veld het hy beurte van 143 en 50 teen Nieu-Seeland geslaan.

Toe Pat Cummins die beurt verklaar het, het Australië 182/2 op die telbord gehad – ʼn voorsprong van 498 lopies.

Die Australiese kaptein sukkel egter met ʼn seer bobeenspier en Steve Smith het intussen die kapteinskapleisels in die Windies se laaste kolfbeurt vasgevat.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 598/4 verklaar: Marnus Labuschagne 204, Steve Smith 200, Travis Head 99 en Kraigg Brathwaite 2/65

Wes-Indiese Eilande 283/10: Kraigg Brathwaite 64, Tagenarine Chanderpaul 51 en Pat Cummins 3/34

Australië 182/2 verklaar: Marnus Labuschagne 104* en Kemar Roach 1/30

Wes-Indiese Eilande 133/2: Kraigg Brathwaite 67*.

  • Labuschagne het altesaam 308 lopies in die wedstryd aangeteken. Engeland se Graeme Gooch hou die rekord vir die meeste lopies in ’n toets toe hy destyds met 456 lopies – danksy beurte van 333 en 123 – teen Indië op Lord’s gespog het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Ons het nie eers een kolwer wat kan saam gesels nie waar op aarde gaan jy ses kry.

Boer ·

Ek stem saam en dan is Lappies ‘n top kolwer in Australië, hier sou hy nie die span haal nie want hy is nie ‘n BBBEEE speler nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.