Langer vies oor Johnson se Warner-kritiek

David Warner op pad terug na die kleedkamer. (Foto: Ishara S. Kodikara/AFP)

Justin Langer het na Mitchell Johnson gekap nadat die voormalige Australiese snelbouler vir David Warner in een van sy The Western Australian-rubrieke gekritiseer het.

“Ek hou niks daarvan wanneer elite Australiese krieketspelers hul griewe in die openbaar lug nie. Wanneer jy iets in die openbaar wil sê, wees eerder positief en gebruik die geleentheid om die betrokke persoon ʼn klop op die skouer te gee. Maar as jy iemand kritiseer moet jy hom in die oë kyk,” het die oudafrigter van Australië gesê.

Volgens Langer, wat die Aussies in 105 toetse verteenwoordig het, is daar ʼn ongeskrewe reël onder die spelers om mekaar te respekteer.

“Selfs al is ons nie noodwendig beste vriende nie, sal ons as ʼn hegte eenheid saamstaan. Dit is immers deel van die Australiese krieketkultuur.”

Die 53-jarige glo dat Warner en Johnson in privaatheid die strydbyl moet begrawe.

 Mitchell Johnson. (Foto: Twitter/ICC)

“Mitch is een van die beste mense wat ek nog ontmoet het. Hy is ʼn topatleet, maar ook ʼn hardkoppige kêrel. Ek weet nie wat tot die suurdruiwe gelei het nie, maar ek hoop hulle kan dinge uitpraat. As spanmaats het hulle baie gelukkige oomblikke op die speelveld gedeel en ek hoop hulle onthou dit.”

Johnson het vroeër geskryf dat hy nie die fanfare rondom die 37-jarige Warner se vaarwelreeks teen Pakistan begryp nie.

“Kan iemand asseblief vir my verduidelik hoe ’n sukkelende openingskolwer toetskrieket sommer so op sy eie voorwaardes vaarwel roep? In dieselfde asem kan ʼn mens ook vra hoe ʼn speler – wat ʼn reuserol in een van die grootste skandale in Australiese krieket gespeel het – soos ʼn held gegroet word?” het hy geskryf.

Die linkshandige snelbouler meen dat Warner ook nog nooit hand in eie boesem oor die balpeuterfiasko van 2018 op Nuweland gesteek het nie.

Die eerste toets tussen Australië en Pakistan word môre in Perth beslis en Warner sal die kolfwerk saam met Usman Khawaja open.

Australië: David Warner, Usman Khawaja, Marnus Labuschagne, Steve Smith, Travis Head, Mitchell Marsh, Alex Carey, Mitchell Starc, Pat Cummins (kaptein), Nathan Lyon en Josh Hazlewood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Dis al lankal oor en verby. Go good Warner, jy verdien n goeie send off.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.