Lions se Delano Potgieter kolf WP flenters

Delano Potgieter (Foto: @LionsCricketSA/X)

Pen maar die naam van die 27-jarige onbesonge Delano Potgieter iewers neer.

Potgieter, wat in Hoërskool Marais Viljoen in Alberton was, het tot dusver in sy loopbaan in slegs 35 eersterangse wedstryde gespeel en spog met ʼn kolfgemiddeld van 32,86.

Hy het die skaal byna op eie houtjie in die Lions se guns geswaai met sy twee skitter-kolfbeurte van 89 en 155* in die eindstryd van die meerdaagse krieketreeks tussen die Lions en die Westelike Provinsie op die Wanderers.

Die Lions was vir byna drie dae op die agtervoet nadat hulle 225 lopies in hul eerste beurt behaal het en die WP met 312 geantwoord het.

Maar toe veg Potgieter (155*), Bjorn Fortuin (42) en Codi Yusuf (46) in die Lions se tweede beurt terug om die telling tot ʼn reuse-394 te voer.

Dit het aan die WP die taak gelaat om 308 lopies vir ʼn oorwinning aan te teken.

Hulle was Saterdagmiddag met 99/3 in die knyp, met Tony de Zorzi (38*) en Kyle Verreyne (27*) wat Sondagoggend op die vyfde en laaste dag kom voortkolf.

Fortuin het binne twee beurte twee keer toegeslaan om ontslae te raak van die aanvangskolwer Eddie Moore (26) en Gavin Kaplan (0) om die Lions se moontlike pad na ʼn oorwinning te plavei.

Maar terug na Potgieter.

Hy het Donderdag in bewolkte en gunstige boultoestande op ʼn groenerige blad op 35/5 gaan kolf. Hy was berekenend, het nie wild en wakker geslaan nie en die Lions uit die sop gehelp.

In die Lions se tweede beurt was sy 155* ʼn juweel. Hy het 244 balle ontvang en 18 viere en ʼn ses geslaan.

Toe die Suid-Afrikaanse toetsspan onlangs die eerste keer bloedneus teen Nieu-Seeland in ‘  toetsreeks gegee is, is daar gesê dat daar ʼn groot tekortkoming in Suid-Afrika is om toetskrieket te speel.

Waar die Suid-Afrikaanse kolwers oor die jare heen die beginsels van toetskrieket vervolmaak het, het die klem nou na kits- en blitskrieket verskuif.

Maar Potgieter het gewys daar is lig in die tonnel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Net in SA waar ons spog met n avg van 32. Marnus, se avg drop vir die eerste keer van 2019 na onder 50 toe, en daar word gese hy moet sy plek verdien, maar hier, hier spog ons met 32.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.