Lizelle groet internasionale krieket

Lizelle Lee. Foto: Saeed Khan/AFP.

Ná twee toetse, 100 eendagwedstryde en 82 T20-kragmetings het Lizelle Lee besluit om haar internasionale beenskutte weg te bêre.

Die 30-jarige kolwer sal egter steeds in die wêreldwye plaaslike ligas in aksie wees.

“Dit is met gemengde gevoelens dat ek my internasionale uittrede aankondig. Vanaf ’n baie jong ouderdom het ek vir krieket geleef en wou ek my land op die hoogste verhoog verteenwoordig,” het Lee op sosiale media gesê.

“Die afgelope agt jaar kon ek daardie droom uitleef en ek voel dat ek my beste vir die Proteas gegee het.”

Sy hou die rekord vir die meeste T20-lopies (1 896) deur ’n Protea-vrouekrieketspeler, terwyl sy met ’n hoogste telling van 132* op die internasionale eendagkrieketverhoog spog.

Daarbenewens is sy in 2021 deur die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack as die vrouekrieketspeler van die jaar aangewys.

Hoewel die kolwer maar met ’n stillerige vertoning by die pasvoltooide Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland tevrede moes wees, het haar kolf ongetwyfeld die praatwerk in 2021 gedoen.

Sy het 632 lopies teen ’n gemiddeld van 90,28 geslaan, terwyl haar onoorwonne 132 lopies teen Indië die hoogste telling van haar eendagkrieketloopbaan is.

Lizelle Lee. Argieffoto.

Haar 288 lopies in vier beurte teen die Indiërs het gesorg dat sy eerste op die Internasionale Krieketraad se kolfranglys gestaan het.

Die afgelope toets teen Engeland was dus haar laaste professionele wedstryd. Sy het haar internasionale loopbaan met tellings van 0 en 36 afgesluit.

“Dit was ’n ongelooflike reis en dit sou nie sonder almal se ondersteuning moontlik gewees het nie. Ek wil ook my spanmaats vir al die wonderlike herinneringe bedank; ek sou dit nie sonder julle kon doen nie.”

Enoch Nkwe, Krieket Suid-Afrika se nuwe direkteur van krieket, het hulde aan Lee gebring.

“Dit is met groot hartseer dat ons een van die titane van Suid-Afrikaanse krieket op ’n betreklike jong ouderdom moet groet. Lizelle het vir talle onvergeetlike oomblikke gesorg – veral in 2021 waar haar kolfwerk onder meer toegesien het dat die Proteas na die tweede plek op die eendagkrieket-ranglys geklim het,” het Nkwe gesê.

  • Die Proteas speel Maandag in die eerste eendagwedstryd teen Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.