Manjifieke Laura slaan spoggerige 100-tal

’n Argieffoto van Laura Wolvaardt. Die Protea-kaptein het Woensdag 102 lopies teen Sri Lanka in Benoni geslaan. (Foto: Marco Longari/AFP)

Kaptein Laura Wolvaardt het met die eerste honderdtal van haar internasionale T20-loopbaan toegesien dat die Protea-vrouekrieketspan vir Sri Lanka met 79 lopies in ʼn T20-kragmeting in Benoni klop.

Die 24-jarige openingskolwer het 15 grenshoue in haar beurt gemoker en sy is uiteindelik vir 102 lopies van 63 balle uitgehaal.

Sy het saam met Marizanne Kapp (wie anders?) toegesien dat die tuisspan 198/5 in die toegelate 20 boulbeurte kon aanteken.

Daarna het Annerie Dercksen en Tumi Sekhukhune toegesien dat die besoekers vir 119 lopies in die 19 boulbeurt uitgehaal is.

Wolvaardt is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Die jong Kapenaar is saam met spelers soos Kapp en Suné Luus een van die Proteas se grootste sterre en sy het in 2021 die jongste Suid-Afrikaner geword om 2 000 eendagkrieketlopies aan te teken.

Oudkaptein Dané van Niekerk het destyds haar lof besing.

“Laura is vinnig op pad om een van die beste spelers te word wat ons ooit sal sien,” het Van Niekerk gesê.

Die volgende wedstryd in die reeks word Saterdag in Potchefstroom beslis.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 198/5 in 20 boulbeurte: Laura Wolvaardt 103, Marizanne Kapp 60 en Achini Kulasuriya 2/39.

Sri Lanka 119/10 in 18,2 boulbeurte: Harshitha Samarawickrama 38, Annerie Dercksen 2/15 en Tumi Sekhukhune 2/25.

  • Bepalings:

30 Maart: Tweede T20-wedstryd in Potchefstroom

3 April: Derde T20-wedstryd in Oos-Londen

9 April: Eerste eendagwedstryd in Oos-Londen

13 April: Tweede eendagwedstryd in Kimberley

17 April: Derde eendagwedstryd in Potchefstroom

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.