‘Maxi-mum’: Aussie moker uitstekende 200-tal

Glenn Maxwell het 201 lopies teen Afghanistan gemoker. (Foto: Indranil Mukherjee/AFP)

Dit was verstommend.

Glenn Maxwell het heel waarskynlik met die beste eendagkrieketbeurt nóg vorendag gekom toe hy eiehandig die Aussie-wa deur die drif teen Afghanistan in Wankhede getrek het.

Australië het met sy telling op 91/7 gewankel en die wenteiken van 292 lopies het ligjare weg gevoel.

Maar Maxwell het sy bynaam van The Big Show gestand gedoen: Die 35-jarige kolwer was die hoofkarakter in ʼn merkwaardige eenmanvertoning.

Hy het Afghanistan se draaiers met flinke voetwerk die stryd aangesê en later – toe die krampe en spasmas gedreig het om sy kolfwerktrein heeltemal te ontspoor – het sy uitstekende hand-oog-koördinasie vir die res gesorg.

Maxwell het ʼn onoorwonne vennootskap van 202 lopies om die agtste paaltjie saam met Pat Cummins geniet.

Die Aussie-kaptein was vir 12 van dié lopies verantwoordelik, terwyl The Big Show die wedstryd met ʼn ses van Mujeeb Ur Rahman se boulwerk beklink.

Toe hy van die veld stap, het hy 201 lopies van slegs 128 aflewerings agter sy naam gehad – 21 viere en tien sesse het die beurt in helder neonkleure ingekleur.

“Dit was een van daardie dae waar jy eintlik net jou kop kan skud en dankbaar wees dat jy daar was om die aksie eerstehands te ervaar,” het Cummins ná die wedstryd gesê.

Volgens die Australiese kaptein is Maxwell altyd vol planne – selfs wanneer sy span nog meer as 200 lopies vir ʼn onwaarskynlike oorwinning benodig.

“Jy moet iemand soos Maxi maar net laat speel. Ek het nie veel insette gelewer nie – wat sê jy vir hom wanneer hy in só ʼn bui is? Jy kan eintlik net agteroorsit en die vertoning geniet.”

  • Opsomming van die telkaart:

Afghanistan 291/5 in 50 boulbeurte: Ibrahim Zadran 129, Rashid Khan 35* en Josh Hazelwood 2/39.

Australië 293/7 in 46,5 boulbeurte: Glenn Maxwell 201* en Rashid Khan 2/44.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Die was spesiaal, nie net om 200+ te slaan nie, maar die circumstance in wat hy dit gedoen het, was iets om te aanskou.

John ·

Maxwell jou ou doring. Dit is vir my al klaar die man van die reeks……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.