Maxwell doen dit wéér

Matthew Wade en Glenn Maxwell het uitstekend kopgehou om ’n aksiebelaaide T20-wedstryd vir Australië te wen. (Foto: Biju Boro/AFP)

Australië het 43 lopies van die laaste twee boulbeurte benodig om sy T20-wedstryd teen Indië in Guwahati te beklink.

Danksy Glenn Maxwell en Matthew Wade se kolfvernuf het die Aussies éérs 22 lopies van die 19de boulbeurt en tóé 21 lopies van die laaste boulbeurt gemoker.

Die besoekers het die wenlopies van die laaste aflewering van die wedstryd geslaan en Maxwell het weer eens sy span se wa deur die lopiejaagtogdrif getrek.

Die kolwer het nou 104 onoorwonne lopies van slegs 48 balle gemoker en sy vier agtereenvolgende grenshoue van Prasidh Krishna se boulwerk het die Indiese toeskouers tjoepstil gespeel.

Dit is die meeste lopies wat nóg van die finale boulbeurt gemoker is om ’n internasionale T20-wedstryd te wen.

“Ons het vir onsself gesê dat ons nog ’n kans staan; ’n mens weet nooit wanneer goeie tydsberekening die momentumskaal in jou rigting kan swaai nie,” het Maxwell gesê toe hy oor sy heldedade gepols is.

Die 35-jarige speler het gedurende die Wêreldbeker-toernooi die verbeelding van die krieketwêreld aangegryp toe hy 201 onoorwonne lopies teen Afghanistan gemoker het.

Talle ontleders het dit as die beste eendagkrieketbeurt ooit bestempel toe hy letterlik op een been die een grenshou na die ander gemoker het om die wedstryd vir sy span te wen.

  • Opsomming van die telkaart:

Indië 222/3 in 20 boulbeurte: Ruturaj Gaikwad 123*, Suryakumar Yadav 39 en Jason Behrendorff 1/12.

Australië 225/5 in 20 boulbeurte: Glenn Maxwell 104*, Travis Head 35 en Ravi Bishnoi 2/32.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.