Maxwell verbeter Markram-mokerrekord

Glenn Maxwell het ’n skittervertoning teen Nederland gelewer. (Foto: Twitter/ICC)

Rekords word inderdaad opgestel om verbeter te word.

Suid-Afrika se Aiden Markram se rekord vir die vinnigste Wêreldbeker-honderdtal [van 49 balle teen Sri Lanka] het skaars vir ʼn paar weke gestaan, of Australië se Glenn Maxwell het dié mokerprestasie verbeter.

Australië se woer-woer-kolwer het net 40 aflewerings benodig om sy honderdtal teen Nederland te vier en hy het uiteindelik agt groot sesse in sy beurt van 106 lopies gemoker.

Maxwell se warrelwindvertoning het Australië in staat gestel om 399/8 aan te teken, waarna Adam Zampa amok onder die Nederlandse kolwers gemaak het om hulle vir 90 lopies uit te knikker.

Australië het die wedstryd met 309 lopies gewen om hul netto lopietempo ʼn lekker hupstoot te gee.

“Dit was nie my aanvanklike plan om ʼn vinnige honderdtal aan te teken nie, dit was net hoe dinge in die wedstryd uitgewerk het. Ek wou ʼn goeie platform skep om later in die beurt ʼn paar groot houe te speel – die bal kan baie ver trek in Delhi,” het Maxwell gesê.

Hy is ook trots op sy spanmaats se vertoning.

“Dit was so te sê die perfekte wedstryd – ons het 400 lopies aangeteken en hulle vir minder as 100 lopies uitgeboul. Ons het nou al ʼn paar goeie vertonings op ʼn streep gelewer.”

  • Opsomming van die telkaart:

Australië 399/8 in 50 boulbeurte: Glenn Maxwell 106, David Warner 104 en Logan van Beek 4/74.

Nederland 90/10 in 21 boulbeurte: Vikramjit Singh 25, Adam Zampa 4/8 en Mitchell Marsh 2/19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.