Morgan-hulle wag vir Faf

Eoin Morgan en Jos Buttler is twee van Engeland se gevaarmanne. Foto: Cricinfo.

Op 30 Mei word die eerste aflewering in vanjaar se Krieketwêreldbeker afgestuur wanneer die Proteas en Engeland (die gasheerland) mekaar in Londen die stryd aansê.

Engeland – tans een van die opwindendste spanne in wêreldkrieket – is onder die gunstelinge om met die silwerware weg te stap.

Hoewel hul finale groep eers op 23 Mei aangekondig word, is hul skadugroep reeds ’n goeie aanduiding van wie die veld teen die Proteas gaan vat, met net Jofra Archer wat moontlik nog die span kan haal.

Sterkolwers soos Eoin Morgan, Joe Root en Alex Hales kan enige boulaanval oorheers, terwyl Jonny Bairstow, Jos Buttler en Ben Stokes later die langsteel kan inlê.

Daarteenoor word die Protea-groep vanmiddag regstreeks om 13:00 bekend gemaak. Die enigste vraag is of Hashim Amla saam met die groep na Engeland sal toer.

Indien hy nie die span haal nie, is dit so te sê neusie verby vir sy eendagloopbaan.

Die aankondiging word regstreeks op SuperSport2 uitgesaai.

  • Engeland se voorlopige groep: Eoin Morgan (kaptein), Jason Roy, Jonny Bairstow, Alex Hales, Joe Root, Jos Buttler, Ben Stokes, Chris Woakes, Joe Denly, Moeen Ali, Adil Rashid, Liam Plunkett, Tom Curran, David Willey, Mark Wood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.