’n Brutale oomblik: Donald teen Atherton in ’98

Michael Atherton en Allan Donald. Foto: Twitter.

Op sy beste moes Allan Donald ’n vreesaanjaende gesig vir kolwers gewees het.

Met sy kenmerkende wit oorlogsverf het dit gelyk asof hy na die paaltjies gesweef het en nie gehardloop het nie. ’n Blitsige plofbeweging aan die einde van sy aanloop het egter gesorg dat g’n kolwer ooit op sy louere kon rus wanneer Donald geboul het nie; die bal het male sonder tal teen ’n spoed van vinniger as 145 km/h verby hul helms gesuis.

Maar in 1998 het hy op amper 32-jarige ouderdom die Suid-Afrikaanse boulaanval teen Engeland gelei. Die vaart van sy jonger dae was dalk nie meer heeltemal binne sy bereik nie, tog het hy steeds kolwers se ondergang beplan. Nou egter met ’n taktiese vermoë wat enige veldmaarskalk trots sou gemaak het.

Gedurende daardie Engelse somer was Donald in ’n klas van sy eie.

In vyf wedstryde het hy 33 paaltjies teen ’n spoggemiddeld van 19,78 geneem. In ’n wipplank-reeks was Hansie Cronjé van een ding seker: Wanneer hy ’n deurbraak gesoek het, moes hy net die bal in Donald se rigting gegooi het.

En op die vierde dag van die vierde toets op Trent Bridge het Cronjé dringend sy skerpskutter se hulp nodig gehad.

Moeg, ná ’n taai vorige toets op Old Trafford, het Donald steeds ingestorm. In sy visier was Mike Atherton – die Engelse kolwer wat al vantevore vir Protea-hoofbrekens gesorg het. Hy het immers in 1995 vir ure gekolf om ’n toets op die Wanderers te beredder.

Die Engelsmanne moes net 247 lopies vir ’n oorwinning aanteken en hulle het goed begin: Atherton en Mark Butcher het sonder enige drama 40 lopies om die eerste paaltjie aangeteken, voordat Shaun Pollock van Butcher ontslae geraak het.

Cronjé het geweet hy het net een kans om die wedstryd te wen. En hy het die bal vir Donald gegooi.

Wat gevolg het, was een van die dramatiese sessies in toetskrieket. Trouens, die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack het dit pas as een van die mees epiese oomblikke ooit op ’n krieketveld bestempel.

Die Suid-Afrikaanse blits was op sy aggressiewe beste en dit was nie lank nie of die perfekte kortvan ’n lengte aflewering het vir Atherton teen sy handskoen geraps. ’n Bloedjong Mark Boucher het vorentoe geduik om die vangskoot te benut.

Die Engelsman het egter roerloos bly staan en – tot Donald se afgryse – het die skeidsregter Steve Dunne ook nie vir Atherton uitgegee nie.

Foto: Twitter.

Skielik het Donald weer met die vuur van sy jong dae geboul en Atherton is met opslagballe teen 145 km/h gepeper.

Die openingskolwer het egter die storm afgeweer en toegesien dat Engeland die wedstryd met agt paaltjies gewen het.

Atherton het later die einste handskoen – met die rooi kol steeds daarop waar die bal dit getref het – vir Donald as geskenk gegee.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Sê nie veel van Atherton se sportmanskap nie want hy het geweet hy is uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.