Nóg ’n 100-tal vir Devon

Nóg ’n honderdtal vir Devon Conway. Foto: Marty Melville/AFP.

Devon Conway het dalk nog net ’n paar toetse vir die Swartpette gespeel, maar volgens krieketkenners in Nieu-Seeland is dié Suid-Afrikaans gebore speler goed op koers om ’n legende te word.

Die 30-jarige kolwer het vroeër sy derde honderdtal in skaars sy vyfde toets geslaan toe hy 109 lopies teen Bangladesj in Christchurch aangeteken het.

In nege beurte het hy reeds 623 lopies geslaan – slegs Sunil Gavaskar (831) en George Headley (714) kon meer lopies in hul eerste vyf toetse moker.

In die proses het Conway die eerste speler in die geskiedenis geword om vyftig of meer lopies (200, 80, 54, 122 en 109) in die eerste kolfbeurt van sy eerste vyf toetse te slaan.

Dit is egter nie net in die toetsarena waar hy skittervertonings lewer nie.

Volgens die jongste Internasionale Krieketraad-ranglys is hy no. 7 op die lys van beste T20-kolwers, terwyl sy kolfgemiddeld in eendagkrieket 75 is.

En die Kiwi’s besing omtrent sy lof.

“Sedert hy sy verskyning in Nieu-Seeland so ’n paar seisoene gelede gemaak het, tel hy gereeld onder die voorste lopiemakers in die reekse waarin hy speel. Dit is indrukwekkend om te sien – ’n kolwer wat met sy vertonings die deur van nasionale erkenning oopforseer,” het Luke Ronchi, die Kiwi’s se kolfafrigter, gesê.

Dan het die oudkolwer Mark Richardson hom met Brian Lara vergelyk.

“Wanneer ek hom sien speel, sien ek vir Lara. Ja, hy is dalk nie so flambojant soos die Wes-Indiese speler nie, maar daar is ongetwyfeld baie ooreenkomste. Devon Conway is mal daaroor om lopies te slaan,” het Richardson gesê.

En om te dink dat Conway ’n paar jaar gelede gesukkel het om gereelde speelkans vir sy provinsiale span in Suid-Afrika te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Casper ·

Hy is nie die enigste gebore Suid Afrikaner wat oorsee naam maak nie.Dawid Malan.Neil Wagner en Marnus Labuschagne is maar ‘n paar wat in ons sport ministers en vir ons piesangland se gesigte lag.ha ha ha lag ek toe ook sommer.

casper ·

Ja SA talent oral internasionaal maar skaars in die SA span ne !!

piet ·

Hoe bedoel jy? Hulle was nie goedgenoeg die tyd toe hulle in SA was nie, kompetisie was te sterk. Marnus was darem op skool in Australie. Malan van Engeland is in Engeland gebore en sy ouers het SA toe getrek waar hy in die Paarl op skool was. Na skool is hy omtrent dadelik weer Engeland toe waar hy al sy krieket gespeel het. So Malan was nooit rerig in die SA Krieket-opset nie. Was ook maar redelik useless toe hy hier weg is want hy het 2de liga krieket vir ‘n lang tyd in Engeland gespeel. So nie een van die ouens wat tans oorsee speel en nou skielik naam maak, was goedgenoeg (op meriete) om vir SA te speel toe hulle hier was nie. Daar is baie talent in die huidige SA span, gee net kans ons is nou in ‘n nuwe siklus nadat ons ongelooflike spelers soos, Kallis, De Villiers, Faf, Amla, Steyn, ensovoors verloor het. Jy krap nie daai gehalte agter elke bos uit nie. Ons doen eintlik goed as jy dink watter manne ons verloor het op ‘n streep.

piet ·

Nee wat, toe hy in SA was, het hy dit nie gemaak nie. Bietjie moeilik om die SA span te haal met al die talent hier. Die ou is al 30 jaar oud met die gevolg dat toe hy in SA was, moes hy kompenteer met ouens soos, Amla, De Villiers, Kallis, Faf, ens. Geen wonder hy kon dit nie maak nie. Dalk het hy verbeter sedert hy daar is. Dieselfde met Wagner. Bloot nie goedgenoeg gewees in SA om die toetsspan te haal nie, daar is hy ‘n ster. Ek bedoel, Wagner sal steeds nie die SA span haal nie.

Oom Kaspaas ·

Piet ek dink nie jy het ‘n clue wat in krieket aangaan, buiten wat jy op die tv sien nie. spelers is goed genoeg en selfs beter as die wat in die span is, maar word nie gekies nie, want die transformasie % moet gehandhaaf word. dis nie meer soos in die ou dae wat jy die beste span kies en sou daar ‘n besering wees vervang jy net daardie persoon nie. Dis hoekom daar ook telkemale 2 of 3 veranderings aan ‘n span gemaak word as 1 speler beseer word. bv sou Rabada beseer word en hy word met Nortje vervang, dan moet Miller, Van Der Dussen, Markram ens plek maak vir bv Phelukwayo, Zondo, Hendricks ens om die verteenwoordigende % reg te kry. Gaan lees ook die storie van hoekom Kevin Pietersen oor is Engeland toe, hy is ook net voor ‘n wedstryd weggelaat uit die span uit omdat ‘n ander speler beseer geraak het en hy toe moes plek maak vir transformasie. Daar is al 13 Suid Afrikaners wat vir Engeland gespeel het na Kevin Pietersen en Andrew Strauss tot op hede

quartus ·

As dit nie vir die sogenaamde ” regstellende aksie ” was nie sou al hierdie uitmuntende sportmanne en vrouens nog vir SA bekikbaar gewees het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.