Protea-vroue kan skoonskip teen Windies maak

Mignon du Preez. Foto: Twitter.

Die Protea-vrouekrieketspan het die Wes-Indiese Eilande met 35 lopies geklop om 4-0 in die eendagreeks van vyf wedstryde voor te loop.

Mignon du Preez was nou die kolwer wat die Suid-Afrikaanse skip na rustiger waters gestuur het. Die 32-jarige voormalige kaptein se onoorwonne 65 van 91 aflewerings het gesorg dat die Proteas 185/6 in hul toegelate 50 boulbeurte kon aanteken.

Daarna het goeie boulwerk deur Dane van Niekerk (3/23) en Masabata Klaas (2/25) die Windies tot 150/9 beperk om die wedstryd vir die besoekers te wen.

Argieffoto van Lizelle Lee. Foto: Saeed Khan/AFP.

Die Proteas het die vorige drie eendagwedstryde onderskeidelik met agt paaltjies, nege paaltjies en agt paaltjies gewen.

Wat uitslae betref is Van Niekerk se span waarskynlik tans die suksesvolste elftal in Suid-Afrika nadat hulle vroeër ook met Pakistan en Indië afgereken het.

Lizelle Lee en Laura Wolvaardt is die twee voorste lopiemakers in die jongste reeks, terwyl Van Niekerk tot dusver die meeste paaltjies geneem het.

Die vyfde en laaste wedstryd word Sondag gespeel.

Voorste kolwers:

Lizelle Lee: 187 lopies in drie wedstryde teen ’n gemiddeld van 187; haar hoogste telling is ’n onoorwonne 91.

Laura Wolvaardt: 161 lopies in vier wedstryde teen ’n gemiddeld van 53.66; haar hoogste telling is ’n onoorwonne 71.

Voorste boulers:

Dane van Niekerk: Sewe paaltjies in vier wedstryde teen ’n gemiddeld van 11,14; haar beste boulsyfers is 3/23.

Marizanne Kapp: Ses paaltjies in drie wedstryde teen ’n gemiddeld van 15.20; haar beste boulsyfers is 3/25.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.