Proteas boaan WB-punteleer

Heinrich Klaasen en Aiden Markram in Indië. (Foto: Twitter/Krieket Suid-Afrika)

Dit is nog bitter vroeg in die Wêreldbeker-kriekettoernooi, maar die Proteas is tans die topspan op die groepfasepunteleer.

Die Suid-Afrikaners het vier punte ná hul spoggerige oorwinnings teen Sri Lanka en Australië, terwyl hul netto lopietempo tans ook die beste onder al die deelnemende spanne is.

Daarbenewens is Quinton de Kock danksy sy twee agtereenvolgende honderdtalle die voorste lopiemaker. Hy het reeds 209 lopies aangeteken, gevolg deur Pakistan se Mohammad Rizwan (199) en Sri Lanka se Kusal Mendis (198).

Maar die Suid-Afrikaanse paaltjiewagter was al vantevore deel van die Proteas se gebruiklike Wêreldbeker-teleurstellings – in 2015 en 2019 – en hy het gewaarsku dat die span nie kan bekostig om die wa voor die perd in te span nie.

“Ons is trots op ons vertoning, maar ons het nog net twee wedstryde gespeel en enigiets kan nog gebeur. Dit is belangrik om op een wedstryd op ʼn slag te konsentreer,” het hy gesê.

Tog vlieg die Proteas vanjaar onder die radar en dalk – net dalk – kan hulle vriend en vyand verras met ʼn uitspeelstryd-oorwinning.

In De Kock, Temba Bavuma, Rassie van der Dussen, Aiden Markram, Heinrich Klaasen en David Miller spog hulle met kolwers wat oor die vermoë beskik om meer as 300 lopies in ʼn wedstryd aan te teken.

Terselfdertyd sal die draaiboulwerk van Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi ʼn belangrike rol op die Indiese baanblaaie speel, terwyl Kagiso Rabada ook weer tekens van sy ou vurige self wys.

Soos wat De Kock egter tereg gesê het: Daar moet eers nog baie water in die see loop; ʼn Wêreldbeker word nie ná die eerste twee wedstryde gewen nie.

Groepfase-punteleer:

  1. Suid-Afrika: 4 punte ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van 2,360
  2. Nieu-Seeland: 4 punte ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van 1,958
  3. Indië: 4 punte ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van 1,500
  4. Pakistan: 4 punte ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van 0,927
  5. Engeland: 2 punte ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van 0,553
  6. Bangladesj: 2 punte ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van -0,653
  7. Sri Lanka: geen punte nie ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van -1,161
  8. Nederland: geen punte nie ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van -1,800
  9. Australië: geen punte nie ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van ‑1,846
  10. Afghanistan: geen punte nie ná twee wedstryde met ʼn netto lopietempo van -1,907.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Hierdie moet soos ‘n dolk in die hart wees van die anti-kniebuig, anti-kwota en oor die algemeen alle negatiewe, anti-SA sport siele. Diesulkes sal weer agter hul klip uitkom wanneer ons weer die dag verloor. Proteas word gelei deur ‘n briljante kaptein.

Republikein in die Wes Kaap ·

Waar val jy nou uit? Jy verwar ‘n klomp onverwante issues met mekaar.

Elmarie ·

Mooi so Proteas! Welgedaan Quinton! Bring asb tog daai koppie huis toe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.