Proteas laat rekords in Delhi spat

Honderdtal-brekers: Aiden Markram, Rassie van der Dussen en Quinton de Kock. (Foto: Twitter/IKR)

Aiden Markram kon Saterdag in Delhi kwalik sy vreugde beteuel toe hy sy blitsige honderdtal met nóg ʼn kraghou bereik het.

Die 29-jarige kolwer het uiteindelik 106 lopies van 54 balle aangeteken en hy het saam met Quinton de Kock (100 lopies) en Rassie van der Dussen (108 lopies) toegesien dat die Proteas meer as 400 lopies in hulle eerste Wêreldbeker-wedstryd teen Sri Lanka kon slaan.

En volgens Markram was dit omtrent ʼn emosiebelaaide oomblik toe hy sy mylpaalprestasie gevier het.

“Ek dink daar is baie passie in die span en ons wil bitter graag ons beste in dié toernooi gee. Die Proteas is bekend daarvoor dat ons maar ʼn stadige aanloop tot ʼn reeks of toernooi geniet en ons het nou baie klem op die Sri Lanka-wedstryd geplaas: Ons wou goed begin,” het hy gesê.

Die Suid-Afrikaner spog nou met die vinnigste honderdtal nóg in Wêreldbeker-wedstryde, maar meen dat rekords juis daar is om verbeter te word.

“Dit sal my nie verbaas as die rekord sommer weer tydens die toernooi verbeter word nie; veral as jy in ag neem hoe kolwers deesde hul beurte benader.”

“Ek weet nou wat die span van my as ʼn kolwer verwag en ek probeer om ʼn positiewe ingesteldheid met slim krieket te kombineer. In die geheel was dit ʼn goeie kolfblad in Delhi, die bal het oor die grenstou geseil en dit was ʼn wedstryd wat vir hope aksie gesorg het.”

Die Proteas speel Donderdag teen Australië.

  • ʼn Paar van die rekords wat in Delhi in die slag gebly het:

Hoogste telling: Die Proteas se beurt van 428/5 is die hoogste telling nóg in Wêreldbeker-wedstryde. Die vorige rekord van 417/5 het sedert 2015 agter Australië se naam gestaan.

Drie honderdtalle in een Wêreldbeker-kolfbeurt: Quinton de Kock, Rassie van der Dussen en Aiden Markram het honderdtalle vir Suid-Afrika gemoker. Dit is ʼn eerste in Wêreldbeker-wedstryde.

Vinnigste honderdtal: Markram het sy honderdtal van 49 balle aangeteken; die vinnigste in Wêreldbeker-geskiedenis. Ierland se Kevin O’Brien was die vorige rekordhouer nadat hy in 2011 die lopiemylpaal van 50 aflewerings teen Engeland gevier het.

Meeste lopies: Suid-Afrika (428/5) en Sri Lanka (326/10) het gesamentlik 754 lopies aangeteken. Dit is die meeste lopies nóg in ʼn Wêreldbeker-wedstryd en dit verbeter die vorige rekord met 40 lopies.

Australië en Bangladesj het in 2019 altesaam 714 lopies op Trent Bridge gemoker.

Lopiebrekers: Dit was die agtste keer dat die Proteas meer as 400 lopies in ʼn eendagkrieketbeurt aangeteken het. Indië het ses keer die 400 lopie-kerf verbygesteek en Engeland vyf keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.