Proteas slaan rits 50-talle in opwarmingstryd

Marco Jansen het 54 vinnige lopies aangeteken. Foto: Twitter.

Vyftigtalle deur Khaya Zondo, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne en Marco Jansen het die Proteas in staat gestel om 433 lopies in hul eerste beurt van die opwarmingswedstryd teen ’n Engeland A-span in Canterbury aan te teken.

Dean Elgar en Sarel Erwee het ’n goeie openingsvennootskap van 85 geniet, voordat Craig Overton amok gemaak het.

Die Engelse naatbouler het vinnig van Aiden Markram en Ryan Rickleton ontslae geraak en die Suid-Afrikaners het met hul telling op 129/5 gesteier.

Khaya Zondo en Rassie van der Dussen het daarna die Protea-skip weer na ’n veilige hawe met hul vennootskap van 143 lopies gestuur.

Kyle Verreynne het daarna op Zondo en Van der Dussen se sukses voortgebou, waarna Marco Jansen die lang steel ingelê het.

Die jong snelbouler het drie viere en vyf sesse in sy onoorwonne beurt van 54 lopies geslaan, terwyl Glenton Stuurman (wat op no. 11 sy verskyning gemaak het) 24 waardevolle lopies aangeteken het.

Die tuisspan beskik egter oor ’n gedugte groep kolwers met Dom Sibley, Keaton Jennings, Dan Lawrence, Harry Brook en Sam Billings wat almal reeds internasionale krieket vir Engeland gespeel het.

Die eerste amptelike toets tussen Suid-Afrika en Engeland begin volgende Woensdag op Lord’s.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 433/10 in 124.3 boulbeurte: Khaya Zondo 86, Rassie van der Dussen 75, Kyle Verreynne 62, Marco Jansen 54  en Craig Overton 5/74.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.