Quinton slaan weer lopies

Quinton de Kock se kolf het die praatwerk teen die Paarl Royals gedoen. (Foto: X/DSG_

Quinton de Kock het uiteindelik in die SA20-toernooi vlamgevat en sy onoorwonne beurt van 83 lopies het ’n deurslaggewende rol in Durban’s Super Giants se oorwinning teen die Paarl Royals gespeel.

De Kock, wat vierde uitgestap het om te gaan kolf, het vyf viere en vyf sesse in sy blitsbeurt gemoker en hy het saam met Heinrich Klaasen (30 lopies van nege balle) toegesien dat die Durbaniete 190/3 in hul toegelate 20 boulbeurte aanteken.

Marcus Stoinis (3/24), Reece Topley (2/27) en Keshav Maharaj (2/24) het daarna korte mette met die Paarl-kolwers gemaak en die Super Giants het die wedstryd met 57 lopies beklink.

Maar terug na De Kock.

Die Protea-paaltjiewagter het ná die Wêreldbeker-toernooi in Indië met sy spelpeil gesukkel en hy het die wind van voor in die Big Bash League saam met die Melbourne Renegades gekry.

Hy het ook nie te waffers in sy eerste ses wedstryde saam met die Super Giants gevaar nie en hy kon slegs 62 lopies teen ’n gemiddeld van 10,33 bymekaarskraap.

Vrydagaand in die Paarl het alles egter vir hom uitgewerk.

“Ek het nou ’n geleentheid gekry om in die middelorde te kolf. Ja, ek het nie ’n goeie aanloop geniet nie, maar ek voel steeds goed oor my kolfwerk; iets moes net vir my in plek val,” het De Kock gesê nadat hy sy speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

“Die baanblad was ’n bietjie stadig en ek het my tyd geneem om by die toestande aan te pas. Daarna kon ek op die grondslag voortbou.”

Maharaj was ook vol lof vir sy beurt.

“Quinny het genoeg talent om enige plek in die orde te kolf. Hy verdien ’n klop op die skouer vir die manier waarop hy die bul by die horings gepak het en sy volwassenheid. Dit was ’n fees om hom in aksie te sien,” die Super Giants se kaptein gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.