Rassie is ’n ranglys-krag

Die Proteas se Rassie van der Dussen. Foto: Oli Scarff/AFP.

Rassie van der Dussen se spogbeurt van 134 lopies in die eerste eendagwedstryd teen Engeland in Durham het ook sy plek op die Internasionale Krieketraad (IKR) se witbalkrieketranglys ’n hupstoot gegee.

Die 33-jarige kolwer beklee tans die derde plek op die internasionale ranglys vir eendagkrieketkolwers. Net Pakistan se Babar Azam en Imam-ul-Haq vertoon tans beter as die Suid-Afrikaner.

Van der Dussen se vertoning het gister nie net toegesien dat die Proteas hul hoogste telling in Engeland (333/5) aanteken nie, maar dit het ook ’n groot rol in die uiteindelike oorwinning gespeel.

Ná 36 wedstryde spog hy met ’n merkwaardige gemiddeld van 74.95 – die hoogste gemiddeld nóg onder eendagkrieketspelers.

“Dit was beslis ’n baie spesiale kolfbeurt vir my. Eintlik is ’n honderdtal altyd spesiaal, maar veral wanneer jy teen die verdedigende wêreldkampioenspan speel,” het Van der Dussen ná afloop van die wedstryd gesê.

Sy beurt het ook die belangrikheid van vinnige enkellopies onderstreep – hy het byvoorbeeld net tien grenshoue geslaan.

“Ons het vooraf baie aandag aan kondisioneringswerk gegee en dit was ons plan om die bal in gapings te slaan en so vinnig moontlik tussen die paaltjies te hardloop. Sodoende kon ons selfs lopies vanaf goeie aflewerings aanteken.”

Internasionale Krieketraad se kolfwerkranglys:

  1. Babar Azam – 892 punte
  2. Imam-ul-Haq – 815 punte
  3. Rassie van der Dussen – 796 punte
  4. Virat Kohli – 790 punte
  5. Rohit Sharma – 786 punte
  6. Quinton de Kock – 780 punte
  7. Ross Taylor – 752 punte
  8. David Warner – 737 punte
  9. Jonny Bairstow – 736 punte
  10. Aaron Finch – 715 punte

Spelers met die beste kolfgemiddeld in eendagkrieketwedstryde:

  1. Rassie van der Dussen – 74.96
  2. Ryan ten Doeschate – 67.00
  3. Babar Azam – 59.22
  4. Virat Kohli – 57.68
  5. Imam-ul-Haq – 54.78
  6. Michael Bevan – 53.58
  7. AB de Villiers – 53.50
  8. Jonathan Trott – 51.25
  9. MS Dhoni – 50.57
  10. Joe Root – 50.45

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.