Rassie, Temba laat die kolfwiele rol

Temba Bavuma en Rassie van der Dussen het saam 204 lopies om die vierde paaltjie aangeteken. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Op ’n stadige baanblad in die Paarl het die Proteas ’n skaflike 296/4 in hul toegelate 50 boulbeurte teen Indië aangeteken.

En dit is te danke aan ʼn uitstekende vennootskap van 204 lopies tussen Rassie van der Dussen en Temba Bavuma om die vierde paaltjie.

Sodoende het die twee kolwers nie net die Protea-kastaiings uit die vuur gekrap nie, maar ook AB de Villiers en Quinton de Kock se vorige vennootskaprekord (171) teen Indië verbeter.

Vóór hul wilgerlat-heldedade het die tuisspan op 68/3 in die 17de boulbeurt gewankel. Janneman Malan is agter die paaltjies uitgevang, Quinton de Kock het hom met een van Ravichandran Ashwin se goëlballe misgis en Aiden Markram is uitgehardloop.

Boonop het die Indiese draaiers die wedstryd in ’n wurggreep gehad en die kolwers het gesukkel om lopies aan te teken.

Maar ’n held dra nie altyd ’n kleefbroek of ’n mantel nie; soms kan hy ook met die groen beenskutte en helm van ’n Protea-krieketspeler rondloop. En Van der Dussen was ongetwyfeld die Proteas se groot held met die kolf.

Hy met sy aggressiewe mokerveeghoue die Indiese draaiers onder druk geplaas en KL Rahul (Indië se waarnemende kaptein) moes weer na sy snelboulers draai om die Suid-Afrikaners in toom te hou.

Van der Dussen se aggressiewe benadering het ook ’n positiewe invloed op Bavuma gehad en hulle het saam die boulers wild en wakker geslaan.

Die Protea-kaptein het sy honderdtal van 133 aflewerings aangeteken, terwyl Van der Dussen ’n rukkie later dieselfde mylpaal vanaf 83 balle gevier het.

Selfs toe Bavuma in die 49ste boulbeurt vir 110 lopies op die grens uitgevang is, het sy kolfmaat nie sy voet van die versnelpedaal gehaal nie en hy het 17 lopies vanaf die finale boulbeurt gemoker om sy beurt op ’n onoorwonne 129 van slegs 96 balle af te sluit.

“Die toetsreeksoorwinning was ’n groot prestasie en ons sal graag op daardie momentum wil voortbou,” het Bavuma vroeër in die dag gesê toe hy die loot gewen het.

En die momentum is beslis nou in die tuisspan se guns. Maar wees egter gewaarsku: Indië is meesters om op hierdie tipe baanblad te kolf.

Proteas: Quinton de Kock, Janneman Malan, Temba Bavuma, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, David Miller, Andile Phehlukwayo, Marco Jansen, Keshav Mahraj, Lungi Ngidi en Tabraiz Shamsi.

Indië: KL Rahul, Shikhar Dawan, Virat Kohli, Sheyas Iyer, Rishabh Pant, Venkatesh Iyer, Ravichandran Ashwin, Shardul Thakur, Bhuveneshwar Kumar, Jasprit Bumrah en Yuzvendra Chahal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris dupreez ·

Die blad speel maklik, ek dink ons moes so 30 lopies meer gekry het.

Jack Russ1 ·

Dit lyk eerder vir my of India so 30 lopies meer moes gekry het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.