Reeks op spel in Potchefstroom

Quinton de Kock en Temba Bavuma sorg vir ’n goeie aanloop tot die Protea-beurt. (Foto: Twitter/Krieket Suid-Afrika)

Die Proteas moet die derde eendagwedstryd teen Australië in Potchefstroom wen as hulle nog ʼn kans wil staan om met die reekslouere weg te stap.

Die Suid-Afrikaners het in Bloemfontein sleg tweede gekom en die besoekers het die openingskragmetings onderskeidelik met drie paaltjies en 123 lopies gewen.

Volgens Heinrich Klaasen is die rits nederlae nog nie rede tot kommer nie – selfs met die Wêreldbeker om die draai.

“Die intensiteit waarmee die Aussies speel, is aansienlik hoër as ons sʼn en ons sal beslis aan ons ingesteldheid op die veld moet werk,” het die kolwer in aanloop tot die Potchefstroom-kragmeting gesê.

Klaasen – wat een van die Proteas se gevaarmanne by die Wêreldbekerskouspel in Indië kan wees – het egter wel gewaarsku dat die span ʼn dringende adrenalien-inspuiting moet kry.

Quinton de Kock en Temba Bavuma kon vandag die Protea-beurt op ʼn flinke noot in Noordwes begin en ná 15 boulbeurte staan die Protea-telling op 97/0.

De Kock het sy eerste eendagkrieketvyftigtal in 11 probeerslae aangeteken, terwyl Bavuma vir die nodige bestendigheid sorg.

Daar sal van Reeza Hendricks, Aiden Markram, Klaasen en David Miller verwag word om op die goeie grondslag voort te bou, terwyl Marco Jansen saam met Gerald Coetzee en Tabraiz Shamsi dan die Aussie-kolwers in toom moet hou.

  • Spanne:

Suid-Afrika: Quinton de Kock, Temba Bavuma (kaptein), Reeza Hendricks, Aiden Markram, Heinrich Klaasen, David Miller, Marco Jansen, Sisanda Magala, Gerald Coetzee, Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi.

Australië: Travis Head, David Warner, Mitchell Marsh (kaptein), Marnus Labuschagne, Alex Carey, Marcus Stoinis, Tim David, Sean Abbott, Nathan Ellis, Tanveer Sangha en Josh Hazlewood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Goed gelei van vooraf, weereens. Geluk Aiden met jou 2 de honderd, al is dit net 2 in 6 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.