Reën kan vir vonke op Old Trafford sorg

Ben Stokes meen Engeland kan selfs in nat toestande ’n wenhaas uit die hoed pluk. (Foto: Twitter/ECB)

ʼn Nat Manchester kan beteken dat Engeland selfs meer aggressief in die vierde toets teen Australië op Old Trafford kan speel. Die tuisspan moet die wedstryd wen as hy nog daarvan droom om met die reekslouere weg te stap.

“Ons sal moet kyk hoe sake verloop, maar as dinge uitdraai soos die weerburo voorspel het, sal ons beslis ons voet op die versnelpedaal moet hou,” het Ben Stokes gesê.

Engeland het juis verlede jaar teen die Proteas gewys dat hy oor die vermoë beskik om ʼn wedstryd binne drie dae te beklink.

“Ons wil altyd kreatiewe spel opdis. Ons onverskrokke benadering tot die spel beteken dat ons in elk geval teen ʼn vinnige tempo speel,” het die Bleekbeen-kaptein gesê.

Aan die ander kant van die muntstuk is daar ook ʼn moontlikheid dat Australië – wat ʼn voorsprong van 2-1 in die reeks geniet – dalk sal speel om ʼn onbesliste uitslag af te dwing.

“Ek weet nie wat hul benadering gaan wees nie, maar as jy jouself vir só ʼn uitslag beywer kan jy tweede viool in ʼn wedstryd speel.”

Die veteraansnelbouler, James Anderson, is weer in die Engeland-elftal en Stokes is opgewonde om die bal in sy rigting te gooi.

“Selfs wanneer hy nie paaltjies neem nie, beteken sy akkurate boulwerk dat hy die kolwers onder druk plaas. Hy het amper 700 toetspaaltjies en dit is te verstane dat hy soms nie op alle suiers vuur nie.”

Die eerste aflewering van die Old Trafford-toets word om 12:00 afgestuur en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Engeland: Zak Crawley, Ben Duckett, Moeen Ali, Joe Root, Harry Brook, Ben Stokes (kaptein), Jonny Bairstow, Chris Woakes, Mark Wood, Stuart Broad en James Anderson.

Australië: David Warner, Usman Khawaja, Marnus Labuschagne, Steve Smith, Travis Head, Mitchell Marsh, Cameron Green, Alex Carey, Mitchell Starc, Pat Cummins (kaptein) en Josh Hazlewood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.