Rilee steeds aan die brand in Blast-reeks

Rilee Rossouw. Foto: Twitter.

Skaars twee dae gelede het Rilee Rossouw ’n onoorwonne 85 lopies vanaf slegs 36 aflewerings vir Somerset teen Essex in die Vitality Blast-reeks geslaan.

Die sterk linkshandige kolwer het die sege met die sewende ses van sy warrelwindbeurt beklink en hy het uiteindelik die bal 12 keer na óf oor die grenstou gejaag.

Ná nege wedstryde in die reeks het hy reeds 437 lopies teen ’n gemiddeld van 72,83 en ’n treftempo van 192,51 gemoker.

As die Protea-keurders ooit na iemand gesoek het om die Suid-Afrikaanse kolfbeurt ’n adrenalien-inspuiting te gee, lyk dit of Rossouw ’n geskikte kandidaat is.

En as jy aanvoer dat die boulers in die Engelse mik-en-moker-reeks nie op internasionale standaard is nie, dink weer: Daniel Sams (die akkurate Aussie) en Simon Harmer (Protea-draaier) was in die Essex-span wat wild en wakker geslaan is.

Die 32-jarige Rossouw het laas in 2016 vir die Proteas gespeel voordat hy ’n Kolpak-kontrak met Hampshire onderteken het.

In 36 internasionale eendagwedstryde het hy 1 239 lopies vir Suid-Afrika teen ’n gemiddeld van 38,71 en ’n treftempo van 94,36 aangeteken. Hy het terselfdertyd amper 6 300 lopies teen ’n gemiddeld van 31,38 in sy T20-verskynings gemoker.

Hy was ook onlangs een van die beste spelers in die plaaslike T20-reeks waar hy ’n magdom lopies vir die Knights aangeteken het.

Die Kolpak-storie behoort nie ’n hindernis in sy pad terug na die Proteas te wees nie; Wayne Parnell en Harmer het soortgelyke kontrakte onderteken en hulle speel weer internasionale krieket.

Rossouw se beurte in die Vitality Blast-reeks:

81* teen Kent

67 teen Essex

26 teen Hampshire

74 teen Sussex

30* teen Glamorgan

7 teen Gloucestershire

13 teen Kent

54 teen Gloucestershire

85* teen Essex.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.