Rilee vier terugkeer met grenshoufees

Rilee Rossouw het gister 96 onoorwonne lopies teen Engeland aangeteken nadat hy in die eerste wedstryd vir vier lopies uitgehaal is. Foto: Geoff Caddick/AFP.

Die Proteas het gister in Cardiff beter gekolf, beter geboul, beter veldwerk gedoen en doodeenvoudig net beter gespeel om die tweede T20-kragmeting teen Engeland met 58 lopies te beklink.

En die spilpunt waarom die Suid-Afrikaners se kolfwerksukses gedraai het, is ongetwyfeld Rilee Rossouw.

Die 32-jarige Vrystater was op sy aanvallende beste en hy het 96 onoorwonne lopies van slegs 55 aflewerings geslaan. Sy blitsbeurt het tien viere en vyf sesse ingesluit.

Die meeste van die grenshoue was te danke aan pure spierkrag, maar hy het ook gewys dat hy oor die nodige vaardigheid beskik om selfs goeie aflewerings met ’n goedberekende swaai van die kolf na die grens te stuur.

Saam met Reeza Hendricks (53 lopies) het hy toegesien dat die Proteas 207/3 in hul toegelate 20 boulbeurte kon opstapel.

Ja, Tabraiz Shamsi het ná sy gesukkel in die eerste wedstryd net soos Austin Powers weer sy mojo teruggekry, maar Rossouw is welverdiend as speler van die wedstryd aangewys.

“Dit is vir my spesiaal om so ’n vertoning vir my land te lewer. Ek het sedert Brexit met ’n paar goeie beurte vorendag gekom en die spanbestuur het hul vertroue in my geplaas en my gekies. Om jou land te verteenwoordig is die trotsste ding wat enigiemand kan doen en vandag was baie emosioneel vir my,” het Rossouw gesê.

Dan was David Miller – wat in Temba Bavuma se plek die T20-span aanvoer – ook in sy noppies met die Proteas se boul- en veldwerk.

“Ons het dinge omtrent vir jou omgedraai na gister se gesukkel in Bristol. Ons het ’n paar goeie vangskote benut en ek is baie tevrede met ons boulers – hulle het dinge vir my makliker gemaak deur gereeld paaltjies te neem,” het Miller gesê.

Die derde T20-wedstryd word Sondag in Southampton gespeel. Dit aksie begin om 15:30 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 207/3 in 20 boulbeurte: Rilee Rossouw 96*, Reeza Hendricks 53 en Moeen Ali 1/17.

Engeland 149/10 in 16,4 boulbeurte: Jonny Bairstow 30, Tabraiz Shamsi 3/27 en Andile Phehlukwayo 3/39.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

70 van die 96 was grenshoue! Seker fris en vars van die veld afgekom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.