Roelof gee Nederlanders byt

Roelof van der Merwe is in die Nederlandse toergroep vir hul wedstryde teen Zimbabwe en Suid-Afrika ingesluit. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Roelof van der Merwe gaan waarskynlik sy eerste internasionale eendagkrieketwedstryd sedert November 2021 speel, wanneer Nederland later vanjaar na Zimbabwe en Suid-Afrika toer.

Daar is ʼn rits Suid-Afrikaans gebore spelers en afrigters deel van die Nederlandse opset (lees Colin Ackermann, Russell Domingo, Heino Khun en kie), maar Van der Merwe sal sekerlik die meeste media-aandag geniet.

Die 38-jarige draaier het immers amok in die pasvoltooide SA20-toernooi gemaak. Hy het nie net die silwerware saam met die Sunrisers Eastern Cape omhoog gehou nie, maar is ook as die bouler van die reeks aangewys.

Sy boulwerk was toe allesbehalwe ʼn grap en hy het uiteindelik 20 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 9,55 laat spat, terwyl hy net ʼn rapsie meer as vyf lopies per boulbeurt afgestaan het.

In een van die wedstryde teen die Durban’s Super Giants het hy met ʼn boulontleding van 6/20 gespog. Die linkshandige draaier het onder meer vanaf agtereenvolgende aflewerings vir Heinrich Klaasen en Quinton de Kock terug na die kleedkamers gestuur.

Hy hou klaarblyklik ook daarvan om teen sy geboorteland in internasionale wedstryde te speel: Wie sal sy merkwaardige vangskoot vergeet om van David Miller ontslae te raak in die berugte T20-Wêreldbekerwedstryd in Adelaide?

Gʼn wonder sy bynaam is “Bulldog” nie; sy hardnekkige houding op die krieketveld beteken dat hy nie sommer sy teenstanders met rus laat nie.

Van der Merwe speel sedert 2015 sy internasionale krieket vir Nederland.

Bepalings:

31 Maart: Nederland teen Suid-Afrika in Benoni

2 April: Nederland teen Suid-Afrika in Johannesburg

Toergroep: Scott Edwards (kaptein), Colin Ackermann, Musa Nadeem Ahmad, Shariz Ahmad, Wesley Barresi, Tom Cooper, Aryan Dutt, Brandon Glover, Vivian Kingma, Fred Klaassen, Ryan Klein, Bas de Leede, Roelof van der Merwe, Paul van Meekeren, Teja Nidamanuru, Max O’Dowd en Vikram Singh.

  • De Leede, Glover en Ackermann sal egter nie beskikbaar vir die wedstryde teen Suid-Afrika wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Manie ·

Baie min volbloed Hollanders in die span, hulle speel meestal met uitgewekenes.

George ·

jy kan dieselfde se van die proteas, meeste buitelandse bloed in hul vloei, van britte tot zimbabwiers

George ·

Meeste wat vir Nederland speel, was substandaard vir hul lande. Roelof was ver onder standaard in SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.