Root, Bairstow onder voorste lopiemakers

England se Joe Root in aksie. Foto: (AP Photo/Rui Vieira)

Die eerste toets tussen Suid-Afrika en Engeland begin Woensdag op die ikoniese Lord’s-krieketveld.

In onlangse wedstryde was die Proteas se boulaanval een van hul sterkste punte, met Simon Harmer en Keshav Maharaj wat Bangladesj dronk gedraai het, terwyl die jong Marco Jansen ook sy stempel in die reeks teen Indië afgedruk het.

Tog sukkel die Suid-Afrikaanse boulers in die opwarmingswedstryd teen Engeland A in Canterbury.

Ben Duckett en Harry Brook se honderdtalle het toegesien dat Engeland se naasbestes 672 lopies in hul eerste beurt kon aanteken. En hulle het dit omtrent op ’n drafstap gedoen.

Duckett en Brook het gesamentlik 43 grenshoue gemoker en die Engelsmanne het teen meer as vyf lopies per boulbeurt gekolf.

Toegegee, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi is nie deel van die wedstrydaksie nie, maar Maharaj (1/169) het meer as sewe lopies per boulbeurt afgestaan.

Aiden Markram (6/91) was Suid-Afrika se beste bouler.

Die Suid-Afrikaners sal beslis hul sokkies op Lord’s moet optrek. Want in Joe Root en Jonny Bairstow beskik Engeland oor twee vuurwarm kolwers.

Root is die voorste lopiemaker in die Wêreldtoetskampioenskap. Die voormalige Engeland-kaptein het reeds 1 744 lopies teen ’n gemiddeld van 64,59 geslaan. Sy sukses is grotendeels te danke aan sy uitstekende reeks teen Indië waar hy drie honderdtalle in vier toetse geslaan het.

Die Proteas sweet tans ook oor Kagiso Rabada se fiksheid. Die snelbouler het vroeë sy enkel beseer. Foto: Marco Longari/AFP.

Dan kolf Bairstow met meer vryheid as ooit sedert Ben Stokes en Brendon McCullum die kaptein- en afrigterleisels van Engeland oorgeneem het.

Hy het al 1 218 lopies in die kampioenskap aangeteken en hier volg selfs ’n meer onheilspellende stukkie statistiek: Hy het in sy laaste vyf toetskolfbeurte vier honderdtalle gemoker.

Die Engelse het hul gevaar in die vyfde toets teen Indië op Edgbaston met die kolf onderstreep toe hulle die wedstryd met sewe paaltjies gewen het nadat hulle 378 lopies vir ’n oorwinning moes aanteken.

Honderdtalle deur Root (142) en Bairstow (114) het die wa deur die drif getrek. ’n Glimlaggende Stokes het later gesê dat hy eintlik gewens het dat Indië ’n teiken van 450 lopies opgestel het, net sodat hy kon sien of sy span dit ook kon jaag.

Wat veral indrukwekkend was, was die tempo waarteen die Engelse gekolf het. Root het teen ’n treftempo van meer as 80 gekolf, terwyl Bairstow 16 grenshoue in sy beurt van 145 aflewerings gemoker het.

“As span het ons geweet wat ons wil doen. Ons wou vanuit die staanspoor aggressiewe krieket speel om die teiken verby te steek. Ons teenstanders kan dalk beter as ons wees, maar hulle is beslis nie dapperder as ons nie,” het Stokes gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.