SA se Bedingham het oog op ‘lewe ná krieket’ in Engeland

David Bedingham in aksie in die toets teen Indië. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

David Bedingham, die kolwer wat verlede week ʼn indrukwekkende toetsdebuut vir Suid-Afrika teen Indië gemaak het, sê hy probeer steeds om ʼn Britse paspoort te bekom – maar nie sodat hy krieket vir Engeland kan speel nie.

Bedingham het 56 lopies aangeteken in die toets in Centurion en het waarnemers met sy kolfwerk en houe beïndruk.

Die 29-jarige kolwer het sedert 2020 Engelse graafskapkrieket vir Durham gespeel.

Hy kan aanspraak maak op Britse burgerskap deur sy voorsate en het nie aan die 2022-’23- plaaslike Suid-Afrikaanse seisoen deelgeneem nie; dit het tot bespiegeling gelei dat hy sy toekoms eerder in Engeland sien.

“Ek probeer nog om ʼn paspoort in Engeland te bekom, maar dit is nie vir krieket nie – dit is vir die lewe ná krieket,” het hy vandeesweek, voor die tweede toets wat Woensdag op Nuweland begin, gesê.

“Ek sal daarvan hou om aan te hou om daar [in Engeland] te speel, maar vandat ek daarheen is, het ek as ʼn oorsese speler gespeel en ek dink nie dit gaan verander nie.”

Hy het bespiegeling, dat hy hoop om vir Engeland te speel, weerlê.

“Ek het die plan gehad om [graafskap-]krieket as ʼn plaaslike burger te speel, maar as ek vir Engeland sou speel, sal dit eers oor drie of vier jaar wees,” het hy gesê.

Hy sê ook ʼn oproep van Shukri Conrad, die Suid-Afrikaanse afrigter, het hom oortuig om homself beskikbaar te stel vir die toetsspan, eerder as ʼn plek in die SA20, Suid-Afrika se T20-franchisekompetisie.

Bedingham en Keegan Petersen is die enigste twee spelers wat in die eerste toets gespeel het en wat ingesluit is die Suid-Afrikaanse span se twee toetse teen Nieu-Seeland. Al die ander eerstekeusespelers het hulle tot die SA20 verbind.

“Ek het my naam laat verwyder sodat ek in Nieu-Seeland kon speel,” het hy gesê.

“Shuks [Conrad] het gebel en gesê daar is ʼn kans. Toe ek hoor dat niemand van die SA20 kan speel nie, het ek gedink my kans om te speel is nogal hoog. Ek het nie twee keer gedink nie.”

Hy sê ook sy insluiting in die span vir die reeks teen Indië was ʼn verrassing.

Bedingham het in 2012-’13 vir Suid-Afrika se o. 19-span gespeel en is lank beskou as een van die land se belowendste jong spelers.

ʼn Ernstige motorongeluk in 2016 het hom egter vir ʼn jaar lank op die kantlyn gehou, wat beteken hy het betreklik laat sy internasionale debuut gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.