Selfvoldane Stokes mor Proteas praat te veel

Engeland se Ben Stokes (6 Januarie 2020) (Foto: AP Photo/Halden Krog)

Dit maak nie saak dat die eerste aflewering van die eerste toets tussen Suid-Afrika en Engeland eers later vandag geboul word nie; daar is reeds ’n hele paar opslagballe tydens die voorafgaande spelersonderhoude afgestuur.

Volgens Ben Stokes, Engeland se toetskaptein, het die Proteas hopeloos te veel oor “Bazball-krieket” te sê.

“Bazball” is die naam wat die Britse media gebruik om Engeland se aggressiewe benadering onder die leierskap van Stokes en Brendon McCullum te beskryf.

“Vreemd genoeg is dit nie ons span wat heeltyd daaroor praat nie, maar wel Suid-Afrika. Ons speel krieket soos wat ons wil, terwyl hulle ook hul eie benadering tot die spel het,” het Stokes gesê.

“Op die ou einde is dit ’n stryd tussen kolf en bal. Die span wat die beste oor vyf dae speel, sal die toets wen. Ons skenk nie veel aandag in die media aan ons aggressiewe benadering nie, maar ons is doodtevrede as Dean Elgar en Kie heeltyd dinge daaroor kwytraak.”

Elgar het vroeër gesê die Engelsmanne se onverskrokke benadering is nie volhoubaar in toetskrieket nie, maar hy wil ook nie in ’n bekgeveg betrokke raak nie.

“Ek wil nie meer oor Bazball-krieket praat of daaroor uitgevra word nie. As span het ons al mooi oor die onderwerp gesels en ons wil nou net krieket speel. ’n Heen-en-weer-moddergooiery is onnodig,” het die Protea-kaptein gesê.

Engeland het reeds hul span vir die toets bekendgemaak, met die veteraan James Anderson wat in sy 173ste wedstryd sal speel.

“Om op 40-jarige ouderdom steeds die leier van boulaanval te wees is ’n ongelooflike prestasie. Jimmy is ongetwyfeld ’n ambassadeur vir die spel,” het Stokes gesê.

Die wedstryd begin vandag om 12:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Engeland: Zak Crawley, Alex Lees, Ollie Pope, Joe Root, Jonny Bairstow, Ben Stokes (kaptein), Ben Foakes, Matthew Potts, Stuart Broad, Jack Leach en James Anderson.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George ·

Wie wil n 2l coke opsit, Aiden gaan weer terug in die stort wees na hy onder 22lopies aangeteken het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.