Sri Lanka slaan terug in Pallekele

Suid-Afrika se A-krieketspan het vandag met sewe paaltjies in Sri Lanka verloor. (Foto: Twitter/KSA)

Suid-Afrika A kon nie op sy sukses van die eerste eendagwedstryd teen Sri Lanka A voortbou nie en het nou met sewe paaltjies die onderspit in Pallekele gedelf.

Dewald Brevis, die held van die vorige kragmeting, kon nou net twee lopies aanteken voordat hy deur Janith Liyanage skoongeboul is.

Toe die 20-jarige kolwer sy paaltjie in die 13de boulbeurt verloor het, het die Suid-Afrikaners met hul telling op 29/6 gewankel en dit het gelyk of hulle vir minder as 100 lopies uitgeknikker sou word.

Tristan Stubbs (59) en Gerald Coetzee (77) het egter hul bes gedoen om die kastaiings uit die vuur te krap en hulle het toegesien dat die besoekers darem 175 lopies kon bymekaarskraap.

Daarna het Nishan Madushka soos ʼn vetgesmeerde blits weggetrek en met sy vinnige honderdtal die wedstryd vir sy span beklink.

Die derde en beslissende eendagwedstryd word Donderdag in Pallekele beslis.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika A 175/10 in 43,2 boulbeurte: Gerald Coetzee 77, Tristan Stubbs 59 en Dilshan Madushanka 4/33.

Sri Lanka A 178/3 in 29 boulbeurte: Nishan Madushka 107* en Lizaad Williams 1/25.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.