Teeger stuur SA o. 19-span na oorwinning oor jong Wes-Indiërs

(Foto: Proteas Men/X)

Die Suid-Afrikaanse o. 19-krieketspan het sy praatwerk op die veld gedoen in die span se openingswedstryd van vanjaar se Wêreldbekertoernooi vir onder 19-spanne toe hy Vrydag in Potchefstroom die Wes-Indiese Eilande met 31 lopies geklop het.

Daar was die afgelope paar dae groot ongelukkigheid toe die span se aangewese kaptein, David Teeger, deur Krieket Suid-Afrika (KSA) as kaptein vervang is nadat hy in Oktober verlede jaar tydens ʼn Joodse toekenningsgeleentheid sy eerbewys aan die jong Israeliese soldate opgedra het wat in Gaza in ʼn stryd teen Hamas gewikkel is.

Teeger het min tekens van druk getoon en 44 lopies in sy kolfbeurt in Suid-Afrika se beurt van 285/9 aangeteken. Juan James, wat in Teeger se plek as kaptein aangewys is, het ook met die kolf uitgeblink en 54 lopies bygedra.

Dewan Marais (65), asook Lhuan-dre Pretorius met 40 lopies, het saam met Teeger (44) en James (54) die grondslag vir die oorwinning gelê.

Die jong Wes-Indiërs was in hul kolfbeurt op 73/5 diep in die moeilikheid voordat Jewel Andrew die span met ʼn skitterbeurt van 130 lopies (96 balle, 14×4, 3×6) die Proteas grys hare besorg het.

Andrew en Nathan Sealy (33) het met ʼn vennootskap van 123 lopies om die sesde paaltjie die jong Windies laat nader kruip, maar die jong Proteas se groot telling was buite hul bereik.

Andrew, wat verlede jaar op 16-jarige ouderdom sy eersterangse buiging vir die Leeward-eilande gemaak het, kan vorentoe nog diep spore trap.

Die Proteas se linkshandige aanvangbouler Kwena Maphaka (5/38) en Riley Norton (3/66) het die Wes-Indiërs aan flarde geboul, terwyl Teeger 1/18 met sy wegbreke geneem het.

Voor die wedstryd begin het, was daar sowat 30 ondersteuners van die Palestynse Solidariteitsbeweging (PSA) wat buite die stadion ʼn paar plakkate rondgeswaai het. Dit het vreedsaam verloop tot hul met die aanvang van die wedstryd uiteen is.

* In Bloemfontein het Ierland se o. 19-span (109/3) ʼn maklike oorwinning van sewe paaltjies oor Amerika (105) behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.