Uiteindelik, Rickelton kry kans op Wanderers

Ryan Rickelton is in die Protea-elftal vir die tweede toets teen die Wes-Indiese Eilande op die Wanderers. Foto: Marco Longari/AFP.

Die opwindende Ryan Rickelton kry môre weer kans om sy vaardigheide op die internasionale verhoog uit te stal wanneer die Proteas teen die Wes-Indiese Eilande in die tweede toets op die Wanderers speel.

Die Proteas het hul elftal vir die wedstryd ʼn kort rukkie gelede aangekondig en Shukri Conrad (afrigter) het vier veranderinge aan die span aangebring wat die eerste toets met 87 lopies op SuperSportpark gewen het.

Benewens Rickelton is Wiaan Mulder, Keshav Maharaj en Simon Harmer vir die Johannesburg-wedstryd nadergetrek terwyl Marco Jansen, Keegan Petersen en Senuran Muthusamy nie vir die wedstryd oorweeg is nie.

Anrich Nortjé sal ook die aksie misloop nadat hy in die vorige wedstryd van ʼn seer lies gekla het.

Rickelton se insluiting is veral goeie nuus; ʼn mens het darem wragties gewonder wat die Lions-kolwer nóg moet doen om weer ʼn kans in Protea-kleure te kry.

In die drie plaaslike meerdaagse wedstryde wat hy hierdie seisoen gespeel het, het hy 365 lopies teen ʼn gemiddeld van meer as 120 aangeteken.

Daar is ook nie baie Suid-Afrikaanse kolwers wat met ʼn algehele gemiddeld van 54,87 én 15 honderdtalle in plaaslike rooibalkrieketwedstryde spog nie.

In sy drie toetse het hy 133 lopies aangeteken, maar hy verdien ongetwyfeld meer geleentheid om sy stempel af te druk.

As jy die Protea-kolfwerk wil regruk begin deur vir Rickelton meer te betrek; dit is nie asof hy veel swakker as die ander kolwers kan vaar nie en hy sal vir ʼn definitiewe adrenalien-inspuiting sorg.

Kaptein Temba Bavuma is egter onder druk om lopies aan te teken nadat hy in die vorgie Windies-wedstryd vir twee nulletjies uitgehaal is.

Lopies is immers steeds belangrik; selfs al is jy vir die besluite op die veld verantwoordelik.

Die Proteas het ook wegbeweeg van draaiers wat bloot die lopiekrane moet toehou; in Maharaj en Harmer het Conrad twee draaiers gekies wat daarvan hou om paaltjies te neem – soos wat hulle vroeër teen Bangladesj gewys het.

Die eerste aflewering word m֧ôre om 10:00 afgestuur.

Proteas: Dean Elgar, Aiden Markram, Tony de Zorzi, Temba Bavuma (kaptein), Ryan Rickelton, Heinrich Klaasen, Wiaan Mulder, Keshav Maharaj, Simon Harmer, Gerald Coetzee en Kagiso Rabada.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Manie ·

Stem saam Piet, dis roekeloos om op ‘n Wanderders baanblad met net 1 ervare snelbouler (Rabada) te speel. Coetzee is nog jonk en onervare, terwyl Mulder op sy beste ‘n medium bouler is. Met Nortje uit, sou ek beslis vir Jansen behou het en 1 draaibouler uitgelaat het. Markram kan die 2de draaier rol vervul.

George ·

Beslis! Harmer kon nie n bal draai in Indie nie, wat te se van Joburg. Wanderers, bekend vir sy spoed, maar 2 spin

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.