Vrystaat se Migael deel van Protea-groep

Migael Pretorius. Foto: Twitter.

Migael Pretorius se insluiting in die Proteas se toetsgroep vir die komende reeks teen Sri Lanka wys dat harde werk in ’n mate steeds in Suid-Afrikaanse krieket beloon word.

Die 25-jarige Vrystater het die derde meeste paaltjies (20) in die huidige franchise-reeks geneem, terwyl sy loopbaanstatistiek vir indrukwekkende leesstof sorg.

In 35 wedstryde het hy reeds 124 paaltjies teen ’n gemiddeld van 22,76 laat kantel. En met ’n boulmentor soos Allan Donald gaan sy loopbaan van krag tot krag in Bloemfontein.

Kagiso Rabada en Dwaine Pretorius se afwesigheid het die weg vir sy insluiting in die Protea-groep gebaan.

“Ons is bly om Migael in die groep vir die Sri Lanka-reeks op te neem. Ons beywer ons om op ’n gereelde grondslag harde werk te beloon en hy het homself beslis bewys,” het Victor Mpitsang, KSA se keurderbaas, gesê.

Met Quinton de Kock wat ook as die tydelik toetskrieketkaptein aangewys is, geniet Kyle Verreynne ook al hoe meer steun om sy toetsbuiging te maak.

De Kock was ongetwyfeld Suid-Afrika se beste speler in die afgelope paar reekse, maar die druk van kapteinskap sowel as om die paaltjiewagterhandskoene te dra, kan dalk te swaar op sy skouers rus.

Indien Verreynne wel gekies word, kan hy die paaltjiewagterpligte by De Kock oorneem wat dan vir die Protea-kaptein meer vryheid sal gee om op veldplasings en dies meer te konsentreer.

Verreynne spog met ’n kolfgemiddeld van amper 52 in 43 eersterangse wedstryde, terwyl hy 115 vangskote en agt suksesvolle stonkpogings agter die paaltjies benut het.

Die eerste toets begin op 26 Desember op SuperSportpark in Centurion.

Proteas se groep vir die komende toetsreeks: Quinton de Kock (kaptein), Temba Bavuma, Aiden Markram, Faf du Plessis, Beuran Hendricks, Dean Elgar, Keshav Maharaj, Lungi Ngidi, Rassie van der Dussen, Sarel Erwee, Anrich Nortjé, Glenton Stuurman, Wiaan Mulder, Keegan Petersen, Kyle Verreynne en Migael Pretorius.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alexander ·

So dankbaar dat Pretorius kans kry. Dit is veral deesdae vir wit boulers moeilik om die hoodste sport te bereik, veral omdat die spanne hul boulers met kwotaspelers oorlaai wat nie die pyp op die hoogste vlak kan rook nie.

Andrew ·

In n kwota gelaaide reeks kan dit nie moeilik wees vir n matige speler om beter as die res te lyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.