Wagner se opslagbal-simfonie sorg vir wennote

Neil Wagner vier James Anderson se paaltjie. Nieu-Seeland het Engeland met een lopie in Wellington geklop. Foto: Marty Melville/AFP.

Die Duitse komponis Richard Wagner was veral bekend vir sy operas – dink byvoorbeeld aan Die Walküre – en sy boeiende musiek.

Nou het Neil Wagner se opslagbal-simfonie ongetwyfeld vir wennote gesorg toe Nieu-Seeland vir Engeland met een lopie in ʼn dramatiese toets in Wellington geklop het.

Die linkshandige snelbouler, wat in Suid-Afrika gebore is, het in die Engelsmanne se tweede kolfbeurt die belangrike paaltjies van Ollie Pope, Joe Root en Ben Stokes geneem voordat hy van James Anderson ontslae geraak het om die wedstryd vir sy span te wen.

Hy beskik oor die ongekende vermoë om kolwers met kort aflewerings te peper en hy het dié aflewering weer eens uitstekend ingespan.

“Dit was ʼn ongelooflike vertoning en elke liewe speler het sy deel gedoen. Dit is maar hoe ons span aanmekaargeslaan is – ons hou net aan speel en gooi nooit die handdoek in nie,” het Wagner gesê.

Engeland was vroeër goed op koers om nóg ʼn reeks onder Ben Stokes en Brendon McCullum se aggressiewe toesig te wen

Hulle het oudergewoonte meer as 400 lopies teen ʼn flinke pas aangeteken en hulle het selfs ʼn opvolgbeurt afgedwing.

“Dit was inderdaad ons wedstryd om te verloor toe ons die opvolgbeurt afgedwing het; ons openingsboulers het immers hul kolwers in drie beurte op ʼn streep laat les opsê en Nieu-Seeland moes met ʼn perfekte antwoord vorendag kom om die toets te wen,” het Stokes gesê.

“ʼn Teiken van 250 lopies is nie eintlik iets wat vir ons slapelose nagte gee nie, maar Nieu-Seeland verdien lof vir hul veggees. Dit is sleg om te verloor, maar ons is dankbaar om deel van só ʼn opwindende wedstryd te wees.”

  • Opsomming van telkaart:

Engeland: 435/8 verklaar in 87,1 boulbeurte: Harry Brook 186, Joe Root 153* en Matt Henry 4/100.

Nieu-Seeland 209/10 in 53,2 boulbeurte: Tim Southee 73, Stuart Broad 4/61 en James Anderson 3/37.

Nieu-Seeland (opvolgbeurt) 483/10 in 162,3 boulbeurte: Kane Williamson 132, Tom Blundell en Jack Leach 5/157.

Engeland 256/10 in 74,2 boulbeurte: Joe Root 95, Neil Wagner 4/62 en Tim Southee 3/62.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie Biebouw ·

Engeland het ‘n fout gemaak om die opvolg af te dwing. Hul moes gaan kolf het , vir drie redes, 1) om hul boulers ‘n ruskans te gee, 2) om NZ totaal uit die wedstryd te kolf, én 3) om die onus op NZ te plaas om lopies te jaag op die laaste dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.