Watwou! Proteas beklink reeks in Sri Lanka

Tabraiz Shamsi het sy reputasie as die wêreld se voorste T20-bouler gestand gedoen. Foto: Hansie Linde.

’n Skittervertoning deur Tabraiz Shamsi, Aiden Markram, Bjorn Fortuin en Keshav Maharaj het die weg gebaan vir ’n Protea-sege van nege paaltjies in die tweede T20-wedstryd teen Sri Lanka.

Sodoende het hulle die reeks beklink – hul derde agtereenvolgende T20-reeksoorwinning nadat hulle ook vroeër met die Wes-Indiese Eilande en Ierland klaargespeel het.

Die dinamiese draaiers het altesaam nege paaltjies tussen hulle geneem om toe te sien dat die tuisspan vir slegs 103 lopies in die 19de boulbeurt uitgehaal is.

Shamsi (3/20) het sy reputasie as die wêreld se voorste T20-bouler gestand gedoen en veral die aflewering waarmee hy vir Chamika Karunaratne skoongeboul het was ’n juweel.

Dan het Markram (3/21) gewys dat hy ’n baie belangrike skakel in die Proteas se veldtog in die komende Wêreldbeker sal wees: Die vermoë om paaltjies te neem en lopies te slaan kan ’n speler se bankbalans ook ’n welkome hupstoot in die era van kitskrieket gee.

Quinton de Kock (58 van 48 balle) het daarna toegesien dat die Suid-Afrikaners die wenlopies in die 15de boulbeurt met net een paaltjie plat geslaan het.

Dit is die Proteas se sesde agtereenvolgende oorwinning in ’n T20-wedstryd en dit moet ongetwyfeld die beleërde Mark Boucher laat glimlag.

Keshav Maharaj, wat in Temba Bavuma se afwesigheid die span op die veld lei, is ook in sy noppies met die vertoning.

“Ons het vandag vroeg gesien dat die draaiers ’n groot invloed op die wedstryd gaan speel en iemand soos Aiden het ongetwyfeld sy kant gebring. Die boulers het beslis my taak baie makliker gemaak,” het Maharaj gesê.

Die Proteas het maar weer min kolwers gehad – Maharaj sou byvoorbeeld sewende gaan kolf het – maar wanneer die boulers amok maak beskik die span oor net genoeg slaankrag met die kolf.

Die laaste wedstryd in die reeks word Dinsdag in Colombo beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.