Luister: Vandag se sportnuus

Argieffoto

Rugby:

  • Aanstaande jaar se Super-rugbyreeks sal reeds op 31 Januarie begin en alle Nieu-Seelandse wedstryde sal ʼn halfuur vroeër afskop. Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, het die bepalings Dinsdagoggend vrygestel.
  • Volgens Andy Marinos, Sanzaar se uitvoerende hoof, begin die reeks ’n paar dae vroeër om seker te maak dat die kompetisie, wat oor 21 weke strek,  afgehandel sal word voor die toetsvenster in Junie.
  • Die Sharks begin op 1 Februarie tuis teen die Bulls, die Stormers speel op Nuweland teen die Hurricanes en die Lions reis na Buenos Aires waar hulle die Jaguares pak.
  • Die ergste is verby, maar Japan tel nou die stukkies op van die verwoesting wat tifoon Fasjai gesaai het minder as twee weke voordat die Wêreldbekertoernooi op 20 September in Tokio begin.
  • Die Engelse span moes langer as vyf uur op die lughawe in Tokio deurbring vanweë die skade wat aan kabels en geboue aangerig is. En toe sit die spanbus ure lank in ʼn verkeersknoop vas.
  • Die meeste van die voorste spanne het sedertdien sonder verdere probleme in Tokio aangekom, maar daar is kommer, veral in Nieu-Seeland, oor Wêreldrugby se besluit om nie ʼn bykomende dag beskikbaar te stel as ʼn wedstryd nie sou plaasvind nie. Albei spanne sal dan slegs twee punte ontvang en die Kiwi’s hou duime vas dat dit nie teen Namibië, Kanada of teen Italië moet gebeur nie.

Argieffoto

Krieket:

  • Daar hang heelwat vrae oor Krieket Suid-Afrika se aanstelling van die relatief onbekende Amol Muzumdar as tussentydse kolfafrigter vir die komende toer na Indië.
  • Die 44-jarige Muzumdar, wat slegs eersterangse krieket in Indië gespeel het, spog wel met 11 167 lopies, wat 60 50-talle en 30 100-talle insluit. Hy het voorheen Indië se o. 19- en 0. 23-spanne afgerig en was Nederland se kolfafrigter. Maar wat gaan Lance Klusener nou in Indië doen, word daar gevra.
  • Muzumdar, wat reeds die SA A-span in Indië (wat versterk is met verskeie toetsspelers) bystaan, het nie goed afgeskop nie, want SA A is op die eerste dag van die vierdagtoets vir net 164 uitgehaal, terwyl Indië A (sonder enige huidige toetsspelers) ná 50 boulbeurte reeds 173/3 gehad het.
  • Tien spelers van Sri Lanka, wat die huidige kaptein, Dimuth Karunaratne, Lasith Malinga en Angelo Mathews insluit, het besluit om hulle nie beskikbaar te stel vir ʼn komende kriekettoer na Pakistan nie.
  • Sri Lanka sal drie eendagwedstryde en drie T20-wedstryde speel en dit sal die eerste toer na Pakistan wees sedert die terreuraanval in 2013 in Lahore, toe ses veiligheidswagte dood is en verskeie Sri Lanka-spelers gewond is nadat hul spanbus aangeval is. Dit het tot die onmiddellike kansellering van dié toer gelei en sedertdien moes Pakistan weg van die huis af speel.

Fietsry:

  • Die Deense fietsryer Jakob Fuglsang het Maandag die 16de skof van die Vuelta a Espana-fietstoer gewen. Die Britte Geoghegan Hart het 22 sekondes ná hom tweede geëindig.
  • Primož Roglič het 16de geëindig, maar hy is steeds 23 sekondes in die algehele voorste plek voor die wêreldkampioen, Alejandro Valverde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.