Nadat Henri Schoeman (driekamp vir mans) en Sunette Viljoen (spiesgooi vir vroue) nog twee medaljes bygevoeg het, is dit byna seker Suid-Afrika sal by tien uitkom.
Schoeman se spanmaat, Richard Murray, die huidige wêreldkampioen, was vierde. Die Brownlee-broers van Brittanje het die eerste twee plekke ingeneem.
Suid-Afrika spog nou met nege medaljes (een goud, ses silwer en twee brons), wat in net vyf sportsoorte (atletiek, swem, kanovaart, rugby en driekamp) verower is en dit moet kommerwekkend vir die ander sportsoorte se beamptes wees.
Caster Semenya het vroeg Vrydagoggend haar halfeindronde in die 800 op ʼn drafstap gewen en ʼn goue medalje is nie net in Sondag se eindronde binne haar bereik nie, maar sy kan ook die wêreldrekord laat spat.
Vier Suid-Afrikaners is Vrydag in aksie met net twee medaljes op die spel.
In die 50 km-stap kan Marc Mundell sy drome bewaarheid om ʼn medalje te wen en Anél Oosthuizen spring in die 20 km-stap vir vroue weg. ʼn Medalje? Dit sal nie maklik wees nie.
Die derde ronde van die vroue-houespeltoernooi word Vrydag gespeel. Albei Suid-Afrikaners het baie beter in die tweede ronde gevaar. Paula Reto (74, 67) is op 141, nege houe agter Inbee Park van Korea (132) en Ashleigh Simon (74, 69) het ook stukke beter gevaar. Sy is op 144 in die gesamentlike 41ste posisie.
Hou die Suid-Afrikaners Vrydag dop:
12:30: Gholf: Vroue: Derde ronde van houespeltoernooi : Paula Reto en Ashleigh Simon
13:00: Atletiek: Mans: 50 km-stap: Marc Mundell.
19:30: Vroue: 20 km-stap: Anél Oosthuizen
Caster gaan daai wereldrekord met minuuute verbeter.