Onsekere veld en Proteaspan takel Kiwi’s

Faf du Plessis

Faf du Plessis

Vir Suid-Afrika is dit feitlik soos ʼn wegwedstryd wanneer die eerste toets Vrydag op Kingsmead in Durban teen Nieu-Seeland begin.

Krieket in Augustus is ʼn nuutjie in Suid-Afrika en na ʼn droë winter sal die Kingsmead-kolfblad na verwagting minder steun verleen as vir die blitse van die verlede soos Neil Adcock, Vince van der Bijl, Mike Procter en Shaun Pollock.

Niemand weet watter streke die kolfblad, insluitende die begunstiging van kolwers, sal uithaal nie. Daar is heelwat gras op die kolfblad, maar daardie noodsaaklike bietjie vog is afwesig. Dit sal dus nie noodwendig venynig wees nie.

Die buiteveld is ook nie na wense nie, nadat die vervanging van die gras klaarblyklik te onlangs gedoen is.

Die Suid-Afrikaanse aanslag sal met groot belangstelling dopgehou word. Die span is nog nie volgens die ‘kwota-riglyne’ van die minister van sport gekies nie, maar sal nietemin sukkel.

Hulle het kaptein AB de Villiers vir die tweetoets-reeks verloor, hul laaste vyfdagreeks in Januarie teen Engeland in Suid-Afrika gespeel (en verloor) en voor dit 0-3 in die wegreeks teen Indië en hulle kom teen ʼn Kiwispan te staan wat glo hulle kan die eerste uit Nieu-Seeland wees om ʼn reeks teen Suid-Afrika te wen.

Vir die Proteas gaan dit baie belangrik wees dat Hashim Amla, Dean Elgar en die nuwe kaptein, Faf du Plessis, stabiliteit bolangs in die kolforde met goeie tellings vestig.

Die waarskynlike SA span –

Faf du Plessis (kapt), Dean Elgar, Stephen Cook, Hashim Amla, JP Duminy, Temba Bavuma, Quinton de Kock, Vernon Philander, Dale Steyn, Dane Piedt, Kagiso Rabada

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.