Oosthuizen jaag nóg ʼn grote

Louis Oosthuizen (Foto: Louis Oosthuizen/Facebook)

Louis Oosthuizen het die afgelope naweek die 108ste SA Ope-toernooi vir die eerste keer gewen. Donderdag begin die Alfred Dunhill-kampioenskap op Leopard Creek, naby Malelane, en dis ʼn toernooi wat Oosthuizen nog nooit kon wen nie. Louis was in 2005 en 2014 die naaswenner en moet sekerlik Donderdag as die groot gunsteling op die bof stap.

Die toernooi is verlede jaar op ys geplaas deurdat verskeie veranderinge aan die baan op Leopard Creek aangebring is. Die laaste toernooi in 2016 is deur Brandon Stone gewen (-22) terwyl Richard Sterne tweede (-15) geëindig het.

Die hooftoernooi spog met ʼn prysgeld van R23 miljoen waarvan die wenner meer as R3,7 miljoen in sy sak gaan steek. Van die groot name wat sal afslaan, sluit spelers in soos Ernie Els, Louis Oosthuizen, Charl Schwartzel, Branden Grace en Brandon Stone.

Die toernooi word voorafgegaan deur ʼn syferdrie-kompetisie met ʼn algehele prysgeld van R1 miljoen. Al 156 spelers in die hooftoernooi het toegang om aan dié syferdrie-kompetisie deel te neem.

Charl Schwartzel moet vandeesweek as een van die gunstelinge beskou word op ʼn baan wat hy as sy gunsteling beskryf. Schwartzel het al vier keer vantevore as kampioen uit die stryd getree op Leopard Creek (2005, 2013, 2014 en 2016). Hy het met vier houe geseëvier in 2016.

Branden Grace. (Foto Facebook)

Branden Grace moet ook fyn dopgehou word. Hy was die wenner in 2015 terwyl Ernie Els (wat nou net kort duskant 50 jaar oud is) verlede naweek getoon het hy kan dalk vir ʼn verrassing sorg.

Die eerste twee dae sal die spelers in driebal-groeperings speel en op die laaste twee dae in ʼn tweebal-groepering nadat die kwalifisering plaasgevind het.

Daar is ʼn hele klompie interessante groeperings vir die eerste twee rondes. Die verdedigende kampioen, Brandon Stone, sal saam met Robert Karlsson en Bryce Easton op die bof wees.

Vanaf die 10de bof:
7:20 Louis Oosthuizen, Pablo Larrazabal en Erik van Rooyen
7:30 Branden Grace, Matt Wallace en Kurt Kitayama
7:40 Brandon Stone, Robert Karlsson en Bryce Easton

Vanaf die 1ste bof:
12:10 Darren Fichardt, Thomas Aiken en Dylan Frittelli
12:20 Charl Schwartzel, George Coetzee en Matthieu Pavon
12:30 Ernie Els, Trevor Immelman en Richard Sterne

Spel begin Donderdag en Vrydag om 06:20.

Meer inligting is beskikbaar by: http://www.europeantour.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.